Toe ek klein was het ons in ‘n huis gebly waarvan die oprit na die motorhuis baie lank was. Ek onthou hoe daardie heining teen die rylaan van bo teen die motorhuis tot onder by die hek vol sweetpeas geplant was wat in oorvloed geblom het. Ek het elke middag vir die buurtannie (Tannie Snyman) sweetpeas gepluk tot sy eendag vir my gesê het: My kind nou het ek nie meer genoeg glasies vir die blomme nie. Hie-hie-hie. Ai dis seker hoekom ek vandag nog heeltemal dol is oor sweetpeas en vanjaar gaan ek probeer om hulle ook in oorvloed in my tuin te plant.
Nou die belangrikste ding wat ek uitgevind het is dat jou bedding ‘n noordelike aansig moet hê. Daar moet ‘n oorvloed van son wees, die grond moet goed dreineer en jy kan maar ekstra kompos inwerk, want blykbaar is hulle baie lief daarvoor. Ek moet egter bieg dat ek elke jaar saadjies met sukses groei in grond wat gladnie so vreeslik vooraf bewerk is nie, maar om ‘n oorvloed van blomme te hê, gaan ek vanjaar ekstra moeite doen. Ek sal jul laat weet of dit ‘n verskil gemaak het.
Plant nou in Maart maand jou sweetpea saadjies, gee hul elke dag water tot hul goed gevestigde sterk plantjies is en as jy wil kan jy die klein plantjies so elke tweede week bietjie blaarvoeding gee (iets soos Seagrow sal werk). Onthou om ook ‘n traliewerk te hê waarteen hulle kan oprank of kyk uit by die tuinsentrums vir die nuwe sweetpeas wat omtrent net so kniehoogte groei. Dis pragtige plante om die rand van jou blombeddings mee te versier.
My wens vir jou is dan ‘n oorvloed van blomme met die aller wonderlikste geur.