'n Oulike idee vir 'n "bedien-in-die-tuin" - nagereg, by 'n ooievaarspartytjie of 'n kombuistee, is 'n Cupcake-Trifle-geskenkie. Wanneer jou gaste onder die bome ontspan en jy nagereg moet bedien, bedien iets wat anders is en die mense aan die praat gaan kry. Elkeen kry sy individuele porsie nagereg.
Dis so maklik om te maak. Jy bak jou kolwyntjies / cupcakes soos gewoonlik. Wanneer hulle afgekoel het, haal die papiertjies af en sny die cupcake in die helfte om twee lagies te vorm. Laat sak nou die een lagie cupcake binne-in 'n glasfles en skep volgende 'n lagie van aarbeikonfyt bo-op. Daarna 'n lagie vla en weer die tweede lagie van die cupcake. Rond af met room wat jy met 'n koekspuit bo-op die cupcake spuit en versier met vars vrugte blokkies of cherries. Jy kan jou eie staatmaker trifle resep gebruik of gebruik wat jy in die huis het. Verkoel in die yskas tot benodig.
Daar is net een wenk hier: As jy room gaan gebruik, moenie kits spuitkannetjies gebruik in warm weer nie en skep die room eers op net voor jy die "geskenkies" bedien.
Kyk nou net hoe oulik en oorspronklik.