Friday 4 November 2011

LEONIE HOLST SE FANTASTIESE VRUGTEKOEK



















Hierdie koek word reeds in Oktober gebak sodat dit teen Kersfees reg is.  Die koek is ‘n lekker geskenk idee.  Met die vulsel kan jy 3 koeke bak of 1 groot koek in ‘n 26cm pan.

Indien jy verkies om net 1 te bak sal dit 3½ uur bak en moet die glansvrugte verkieslik nie bo-op gesit word nie, omrede met die langer baktyd die koek te donker sal word.

Sprinkel elke paar weke brandewyn oor die koek sodat hulle goed kan hou en vol geur is.

Die koek kan regdeur die jaar geniet word aangesien dit vir tot 12 maande hou as dit goed verseël word.

Maak:             3 koeke
Temp:            165°C
Baktyd:         1 uur 45 minute

1kg vrugtekoekmengsel
425g suiker
15ml koeksoda
360g botter
4 ekstragroot eiers
760g koekmeel
Knippie sout
15ml bakpoeier
20ml droë gemengde speserye
100g pekanneute
200g rooi glanskersies
6 stukke glansvrugte, ekstra kersies en neuter vir versiering
75ml brandewyn

1.    Smeer en voer twee 24 x 10cm broodpanne en een ronde koekpan van 18cm uit.  Sny twee kartondose sodat dit op die oondrak sal pas.  Ou wyn- of groentebokse werk goed.
2.    Gooi die vrugte, suiker, koeksoda, botter en 500ml water in ‘n groot kastrol.  Verhit oor medium tot hoë hitte tot kookpunt.  As die mengsel begin borrel, moet jy dit vir presies 20 minute laat prut.  Verlaag, indien nodig, die hitte sodat die mengsel saggies prut sonder o moor te kook.  Roer af en toe.
3.    Haal die kastrol na 20 minute van die plaat af en laat eenkant afkoel.  Terwyl die mengsel afkoel, kan jy die neuter en kersies uitsoek.  Hou die mooieres om die bokant van die koek te versier.  Klits die eiers en hou eenkant.  Sif die meel, sout, bakpoeier en gemengde speserye.
4.    Roer die eiers by die vrugtemensel.  Roer die droë bestanddele in die vrugtemengsel tot goed gemeng.
5.    Skep die panne halfvol met die beslag.  Pak ‘n laag neuter en kersies in elke pan en skep dan vol met die res van die koekbeslag.  As jy nie die koeke gaan versier nie, kan jy die bokante met die glansvrugte en ekstra kersies en neuter versier.
6.    Sit die koekpanne in een of twee kartondose.  Bedek die bokse met ‘n laag bruinpapier en sit dit in die middel van ‘n voorverhitte oond.  Bak vir 45 minute.  Haal die bruinpapier af en bak vir nog 30 minute.  Haal die panne uit die bokse en bak vir nog 30 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom.  Haal uit die oond en laat effens afkoel voordat jy brandewyn bo-oor sprinkle.  Laat die koeke heeltemal afkoel en drai stewig toe in foelie.  Sprinkel elke twee weke tot Kersfees 15ml brandewyn oor die koek.

WENKE:

*        Die kartonbokse verseker dat die koeke teen ‘n egalige temperatuur bak – nie te warm nie.
*        Hou die kokende vrugtemengsel fyn dop terywl dit prut.  As dit te warm word, kan dit oorkook.
*        Laat die mengsel behoorlik afkoel voordat jy die eier bygooi.  As dit te warm is, sal die eier gaar word en stukkies vorm.
*        Sit die kersies en neuter in die middel van die koek sodat dit nie afsak in die vloeistof nie.  Dit lyk boonop baie mooi as jy die koek sny.  Maak seker die neuter en kersies wat jy gebruik, is vars en propvol geur.
*        Maak jou hande nat en druk die mengsel met joun hande in die pan plat voordat jy dit met die ekstra vrugte versier.