Wednesday 16 November 2011

Droomkoek






















Jeanette v d Berg se heerlike droomkoek
 
VINNIG: Vat ‘n koek, enige koek . . .

Met ‘n bietjie vernuf kan jy ‘n eenvoudige onversierde sponskoek in ‘n droomkoek verander.
Daar is ‘n fyn lyn wat die waarheid en ‘n leuen van mekaar skei.
“Het jy die koek self gebak?” is ‘n vraag wat hom maklik teen dié lyn kan vasloop. Of jou in die lyn kan laat verstrengel raak.
... Maar wees dapper: kry ‘n onversierde winkelsponskoek en verander dit in ‘n tuisgemaakte triomf wat almal gaan laat wonder waar jy jou talent vandaan kry.

Kits sjokolade-rumkoek
Sagte koek, romerige vulsel, effense rumskop en dan die krakerige sjokoladeverrassing . . .
1 sjokolade- of witsponskoek
rumvulsel*
ekstra rum
sjokoladekrakels*
frambose, om te versier
Sny die koek in die helfte.
Plaas die onderste helfte op jou opdienbord. Sprinkel met ‘n eetlepel of twee van die rum.
Plaas die helfte van die rumvulsel bo-op en sprinkel die helfte van die sjokoladekrakels oor.
Sprinkel die gesnyde kant van die ander helfte koek ook met ‘n eetlepel of twee rum.
Plaas dit bo-op die ander helfte.
Bedek die bokant met die res van die rumvulsel.
Pak frambose bo-op en sprinkel die res van die sjokoladekrakels oor. Plaas in die yskas vir ‘n halfuur – as jy kan wag – vir alles om lekker saam te jel.

*Vir die rumvulsel
125 ml room
75 ml strooisuiker
125 ml roomkaas
15 ml rum
Klits die room tot styf en voeg dan die res van die bestanddele by en klits tot gemeng.
*Vir die sjokoladekrakels
150 ml hawermout, of muesli met baie hawermout in
150 ml growwe klapper
15 ml olie
30 ml stroop
5 ml kakaopoeier

Voorverhit die oond tot 180 °C.
Meng die hawermout, klapper, olie, stroop en kakao in ‘n bakplaat en bak vir 10 minute. Haal dit elke twee tot drie minute uit die oond en roer sodat dit nie vasbrand nie.
Gooi op ‘n bord uit en laat eenkant om af te koel. Breek dit met jou hande uitmekaar as dit te groot klonte gemaak het.