Thursday 27 October 2011

Aarbei-noga-sjokoladekoek





















Dié koek kry 'n tussenlaag van aarbei-noga en word afgerond met 'n
sjokolade-bolaag.

Sjokoladekoek

4 groot eiers, geskei
175 ml louwarm water
375 ml suiker
175 ml kakao
80 ml kookwater
150 ml kookolie
5 ml vanieljegeursel
500 ml koekmeel
15 ml bakpoeier
2,5 ml sout



1.    Berei twee veerklamp-koekpanne - sowat 25 cm in deursnee - voor. Stel oond op 180 °C.
2.    Klits eiergele en louwarm water tot sponsig.
3.    Voeg suiker geleidelik by. Maak kakao met die kookwater aan tot 'n gladde pasta. Vou die kakao in die eiermengsel.
4.    Voeg olie en geursel by en vou in tot olie deeglik gemeng is.
5.    Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam en vou bietjies-gewys in die eiermengsel in.
6.    Klits eierwitte tot styf en vou laastens in. Verdeel mengsel in die twee panne en bak 20 tot 25 minute tot gaar.

Aarbei-noga-vulsel

125 g margarien
125 ml strooisuiker
12,5 ml gelatien
75 ml koue water
1 blikkie (397 g) kondensmelk
5 ml kremetart
250 g vars aarbeie - gebruik slegs twee derdes daarvan, grof gekap (res is vir versiering bo-op koek)
2 stukke groenvyekonfyt, grof gekap
125 ml pekanneute, grof gekap
60 ml aarbeistroop (opsioneel)

1.    Room margarien en strooisuiker saam tot lig en donsig. Week gelatien in koue water, laat oplos deur dit vir 10 sekondes in die mikrogolf te plaas.
2.    Voeg by margarienmengsel.
3.    Voeg kondensmelk baie stadig by terwyl jy aanhoudend klits. Voeg kremetart en aarbeistroop by. Vou vrugte in die mengsel in en laat effe styf word in yskas.
4.    Plaas 'n strook waspapier teen die binnerand en op die boom van die veerklamppan. Plaas een koeklaag terug in die pan, skep die noga-vulsel bo-op en versprei dit egalig oor koek. Plaas die tweede laag koek bo-op en plaas terug in yskas om te stol.


Sjokolade-bolaag

200 g sjokolade
100 g botter
125 ml room

1.    Plaas al die bestanddele in 'n glasmaatbeker en verhit in die mikrogolf op middelmatige hitte vir drie tot vyf minute tot sjokolade begin smelt.
2.    Klop mengsel met draadklopper tot dik, maar steeds loperig - die mengsel behoort nou afgekoel te wees.
3.    Giet versigtig en stadig van binne na buite in 'n spiraal oor die koek totdat die sjokolade teen die kante begin afloop.

Versier met res van aarbeie.

(Resep uit Landbou Tydskrif)