Wednesday 14 September 2011

Vetplant fonteine - nuwe lewe vir 'n ou waterfokuspunt

Daardie fonteintjie wat jy destyds ten duurste gekoop het, maar net nie meer lus het om elke week skoon te skrop nie, kan nuwe lewe kry. 
Hier is ‘n oulike idee om ‘n vetplant-fonteintjie aan te plant.  Kies ‘n verskeidenheid plante wat baie kleur sal gee en versier tussen in met klein klippies om die grond te bedek. 
Echeverias;   lyk soos vetplant-rose (middel bo) en daar is ‘n groot verskeidenheid van hulle op die mark beskikbaar. 
Senecio Rowleyanus of “String of pearls” ;  (regs bo) is ‘n oulike plantjie om tussen-in op die rand van jou bak te plant.  Hulle sal soos klein fonteintjies teen die kant af rank. 

Vetplante benodig regtig nie veel onderhoud nie en sal baie min water gebruik.  Jy hoef nie dreineringsgate te boor nie, maar hou die hoeveelheid water wat jy gee, min. 

Die belangrikste van hierdie projek is om dit net onkruid-vry  te hou wanneer jy klaar is.  Sommer so sonder moeite, as jy verby die vetplant-fonteintjie loop en jy sien ‘n onkruid wat kop uitsteek, pluk hom uit.  Dis die maklikste en vinnigste en gaan jou dan nie ure se swoeg en sweet kos om later weer reg te ruk wanneer die onkruid heeltemal oorgeneem het nie.
Geniet jou vetplant-fonteintjie.