Tuesday 20 September 2011

Versier handgemaakte skryfbehoeftes






















Jy benodig
- papier en koeverte
- ontwerp van jou keuse
- aftrekpapier
- maskeerband
- sagte linoleum
- balpuntpen
- linosneemessies
- A3-vel asetaat of 'n glasoppervlak
- waterbasisverf vir linoleumwerk of handwerkverf
- inkrollertjie
- koekroller
So maak jy
1 Trek die ontwerp van jou keuse op 'n stukkie aftrekpapier af en plak dit dan met maskeerband op 'n stukkie sagte linoleum vas.
2 Trek die ontwerp met die balpuntpen na om dit op die linoleum oor te dra.
3 Verwyder die aftrekpapier en gebruik dan die linosneemessies om die dele rondom die ontwerp weg te sny sodat net die ontwerp uitstaan as jy klaar is. Begin op die lyne van die ontwerp en kerf die agtergrond stelselmatig weg.
4 As jy klaar is met die snywerk, gooi 'n bietjie verf op die asetaat of glasblad en gebruik dan 'n inkrollertjie om dit in 'n dun lagie daaroor te versprei. Hou aan rol tot die verf effens taai begin raak.
5 Rol 'n dun lagie verf oor die verhewe motief op die linoleum.
6 Neem die linoleum en sit dit versigtig met die geverfde kant na onder op die papier neer wat jy wil versier.
7 Druk die linoleum liggies met jou vingerpunte vas en rol dan die koekroller een keer ferm daaroor om die ontwerp op die papier oor te dra.
8 Lig een hoekie van die linoleum op en trek dit versigtig van die papier af.
Herhaal met die res van die papier en koeverte. Werk met een op 'n slag en wend telkens nog verf aan voor jy die volgende een druk. Laat die verf goed droog word voor jy dit verpak.
Blink idees
·         Jy kan jou linoleumontwerp oor en oor gebruik. Spoel dit net deeglik af ná elke keer se gebruik.
·         Skep 'n hele reeks skryfbehoeftes deur dieselfde ontwerp in verskillende kleure te druk.
·         Gebruik soms net een deel van 'n ontwerp pleks van die hele een. Jy kan die dele ook bo-oor mekaar, langs mekaar of in verskillende kleure druk vir 'n interessante effek.

Verpak dit so
Sny stroke papier in 'n kleur wat pas by die bedrukte skryfbehoeftes. Vou die stroke om die pakkies papier en koeverte en plak dit aan die agterkant vas met alkantplakband. Sit die twee pakkies in 'n sellofaansakkie of draai dit in 'n stuk sellofaan toe. Sit 'n stukkie karton in die regte grootte aan die agterkant in om dit stewiger te maak. Rond dit af deur 'n stukkie bypassende geskenkpapier dubbeld te vou oor die opening en dit so vas te kram of met alkantplakband vas te plak.



(Hierdie oulike idee was in 'n Idees Tydskrif)