Tuesday 20 September 2011

Biltong-en-aartappelkoekies















Dis amper soos ’n viskoekie, maar pleks van vis is daar kaas en biltong by. Alte lekker met ’n slaai vir ’n ligte ete, óf saam met wors en smoor of ’n bredie met ’n lang sous.
Vir 4 persone

Jy benodig
½ koppie mayonnaise
sap en gerasperde skil van ½ suurlemoen
1 vars brandrissie, gekap (of 2 eetlepels soet rissiesous)
½ ui, fyngekap

1 eetlepel olyfolie of botter (vir die uie)
2-3 koppies kapokaartappels van 4 groot aartappels (as dit nie anders kan nie, kan jy ook Smash gebruik)
1 eetlepel Dijon-mosterd
2 gebraaide mielies, pitte afgesny (of ½ blikkie heel mieliepitte)
½ koppie sagte biltong, gekap
½ koppie gerasperde cheddar (of 2 fetakaaswiele, gekrummel)
1 eier, met ’n vurk geklits
kookolie vir braai
Só maak jy
1 Meng die mayonnaise, suurlemoensap en -skil en brandrissie (of soet rissiesous) en hou die mengsel eenkant.
2 Braai die uie in ’n pan met olyfolie of botter tot goudbruin.
3 Meng die uie en die res van die bestanddele saam. Sit dit verkieslik vir ’n halfuur in die yskas sodat dit ferm kan raak.
4 Maak 6-8 koekies uit die mengsel en gooi ’n bietjie olie in ’n pan. Braai dit vir 5 minute aan elke kant.
5 Sit dit voor met die mayonnaisesous en ’n slaai, of as ’n bykos saam met ’n bredie.
Wenk:  Jy kan enigiets van gebraaide sampioene, vars kruie of kekerertjies hierby voeg.