Monday 19 September 2011

Tuin ontbyt in die somer

Wat kan dan nou lekkerder wees as 'n groot ontbyt in 'n mooi tuin op 'n somers oggend?  Wel jy kan dit geniet in jou pantoffels sonder om duisende rande uit te gee op 'n oorsee vliegkaartjie.  Skep 'n hoekie in jou tuin, al is dit klein, waar jy die lui somer vakansie dae kan geniet.

As jy so gelukkig is om 'n skaduboom in jou tuin te hê is dit fantasties en die ideale plek, of anders kry sommer 'n somer strand sambreel waaronder jy kan kuier.  Maak die area reg vir 'n tafel en stoele (al is dit net 'n tafel vir twee), plant 'n paar van jou gunsteling geur-plante in die omgewing en rond af met jou gunsteling blomplantjies.  Die oppervlak waarop die tafel staan moet gelyk wees, maar hoef nie te bestaan uit duur plaveistene nie.  'n Gewone sementblad of slegs 'n gelyk stukkie gras werk net so goed.
Versier jou tafel met 'n mooi tafeldoek en pak die somer piekniek uit om te geniet. 
In die namiddag kan so 'n hoekie in die tuin die heerlikste plek wees om te ontspan met 'n mooi boek.  Geniet jou tuin die somer.  Maak nou gereed in die lente maande en as jy nog nie 'n skaduboom in jou tuin het nie, plant een vir volgende jaar.  Jy sal nie spyt wees nie.