Wednesday 22 June 2011

Plant kruie volgens jou smaak

Kweek ‘n kruietuin waar jy regtig waarde vandaan gaan kry.  Dit help nie jy plant verskeie soorte kruie wat jy nooit ooit in jou lewe gaan gebruik nie.  Ja dit klink baie oulik as mens na die lys van kruie kyk wat die boeke aanbeveel, maar weet ons aldag ooit waarvoor dit gebruik word of hoe dit smaak?  Hou jy ooit van die smaak?  Plant dus eerder iets wat jy beslis in jou kombuis gaan gebruik.  'n Kruie tuin vir JOU smaak en een waarmee jy kan spog wanneer jy opskep en vertel dis als uit jou eie tuin.
Voorbeelde van ‘n kruietuin of kruietuin afdelings, wat vir jou kan werk:
1)       As jy hou van italiaanse kookkuns, plant kruie soos:  Basiliekruid, oreganum, italiaanse pietersielie, marjolein en tiemie.  Rond dit af met ‘n olyfboom as jy plek het en plant ook jou eie tamaties.
2)      As jy eerder hou van mexikaanse kookkuns, plant dan bv.:  Oreganum, krulblaar pietersielie, koljander en brandrissies.
3)      Meer tradisioneel, kan jy dalk die volgende plant:  tiemie, mint, pietersielie, greenpeppers, roosmaryn en natuurlik kan jy altyd tamaties en sprietuie / grasuie ook in enige kruie tuin plant, om enige resep “aan te help”.  As jy dink aan ‘n boompie vir jou tuin, oorweeg ’n  lourier. (Kan ook in potte geplant word.)