Tuesday 21 June 2011

Hoedkoek (koek-en-tee kinderpartytjie)





















Maak 1 koek
Baktyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 180 °C

Bestandele:
1.    2 hoeveelhede basiese koekbeslag
2.    hoeveelheid basiese botterversiersel
3.    100 ml gladde appelkooskonfyt
4.    250 ml gesifte versiersuiker
5.    500 g plastiekversiersel
6.    geel, groen en pienk koskleursel
7.    suiker- of fondantblomme (by bakwinkels te kry) vir versiering

Metode:
1.    Maak die koekbeslag aan. Smeer en voer ’n ronde koekpan van 25 cm en smeer ’n ronde oondvaste bak van 20 cm. Skep die beslag in die voorbereide bak en pan. Bak vir ’n uur in die oond of tot ’n toetspen skoon uitkom. (Die kleiner koek sal dalk gouer gereed wees.) Haal die koeke uit die oond uit en laat dit in die houers afkoel voor jy dit uitkeer.
2.    Gebruik ’n skerp getande mes en sny die bokant van die 25 cm-koek gelyk. Draai dit om sodat die gesnyde kant onder is. Sny die koek middeldeur en smeer botterversiersel oor die onderste helfte. Sit die boonste helfte terug. Sny die kleiner koek sodat die onderkant gelyk is. Smeer ’n laag versiersel oor die onderkant en sit dit bo-op die 25 cm-koek. Smeer konfyt oor die hele koek.
3.    Knie nou ’n paar druppels geel koskleursel by driekwart van die plastiekversiersel in tot die kleur eweredig versprei is. Sprinkel versiersuiker oor ’n gladde, skoon oppervlak en rol die versiersel in ’n sirkel uit wat groot genoeg is om die koek te bedek. Rol die versiersel oor die koekroller en rol dit dan versigtig oor die koek af. Vee dit met jou hande glad sodat die koek behoorlik bedek is en sny dit netjies langs die onderrand van die koek af.
4.    Voeg ’n bietjie groen koskleursel by die geel versiersel wat oorgebly het. Rol die versiersel in ’n smal strook om vir die lint te gebruik. Sny die punte gelyk en bind die lint om die middel van die koek. Vorm ’n strik met nog ’n strook en maak dit met ’n tandestokkie op die koek vas. Druk suiker- of fondantblomme op die strik om dit te versier.
5.    Knie ’n paar druppels pienk koskleursel by die res van die plastiekversiersel in tot die kleur eweredig versprei is. Rol dit uit en druk blomvorms met ’n koekiedrukker daaruit. Smeer ’n bietjie water agterop elke blom en druk dit al om die onderkant van die hoed vas.