Friday 27 May 2011

Spyskaart en Resepte Week 3

- ˜ - - ˜ - -˜ - - ˜ -
 
WEEK 3
MAANDAG                Aspersie Quiche met ‘n lekker slaai
DINSDAG                  Viskoekies,kapokaartappels met tamatie & komkommer sambal
WOENSDAG            Panpizza
DONDERDAG          Hoenderlewertjies op rys
VRYDAG                   Hamburger en skyfies
- ˜ - - ˜ - -˜ - - ˜ -


RESEPTE WEEK 3

MAANDAG

ASPERSIE QUICHE

Benodig vir die Kors:

300ml Koekmeel
5ml Bakpoeier
2ml Sout
100g Botter
1 Eier, geklits

Sif droë bestanddele saam en vryf botter met die vingerpunte in.  Maak aan met die eier.  Druk deeg teen ‘n gesmeerde tertbak se kante vas.  Verkoel in yskas terwyl vulsel voorberei word.

Benodig vir die Vulsel:

50ml Botter
50ml Koekmeelblom
250ml Melk
2 Eiers, geskei
1 blik (430g) Aspersies, gedreineer
250ml sterk gegeurde Kaas, gerasper
5ml Mostertpoeier
Sout en peper na smaak

Stel die oond op 180°C

Maak ‘n witsous van die eerste drie bestanddele en roer eiergele vinnig by.  Voeg dan kaas, aspersies, moster , sout en pepper by.  Klits eierwit styf en vou in.  Skep vulsel in kors en ban vir 30 min.

WENK:    Enige ander variasie kan gebruik word in die vulsel, bv ham, spek, feta en spinasie
DINSDAG
VISKOEKIES

Hierdie resep is baie maklik en kan met enige geblikte vis van jou keuse gemaak word.  Dreineer net die vis vooraf goed, anders sal die koekies nie lekker bind nie en breek wanneer jy hulle bak.

Benodig – vir sowat 10 koekies

3 blikkies (410g) vis bv tuna, sardyntjie, salm of ‘n mengsel daarvan
½ ou wit Brood, gerasper
‘n groot hand vol Pietersielie, fyn gekap
2 eetlepels Margarien
2 Uie, fun gekap
Sout en Peper na smaak
Suurlemoensap na smaak
1 teelepel rissie-masala
2 eetlepels Bakpoeier
2 koppies Kapokaartappels
2 Eiers
2 koppies Kookolie

Meng die broodkrummels, margarine en fyngekapte uie, die speserye en eiers in ‘n aparte bak (gebruik sommer jou hande, dit werk die beste)

Dreineer die soutwater of olie van die vis, frummel dit eenkant met jou vingers fyn en meng dit in by die res van die bestanddele.

Vorm frikkadelle en druk dit dan effens plat om koekies van sowat 6cm in deursnee te vorm.  Hulle moet stewig wees.  Gooi nog broodkrummels by indien nodig.

Verhit die olie in ‘n diep pan en braai koekies minstens 20 minuted totdat ‘n goudbruik kors vorm.  Draai dit gereeld om.

Dreineer die viskoekies op kombuispapier en sit warm of koud voor.

WENK:    Visserige hande en borde se reuk verdwyn wanneer jy droë Engelse mostertpoeier aanvryf en afwas.
WOENSDAG
PANPIZZA

Ek gebruik ‘n groot oondpan vir die gereg.  Enige vulsel kan vir jou pizza gebruik word, kyk was het jy in die yskas.

500g Brooddeeg (gekoop by Spar, ens)
4 Pruimtamaties, gekap
45ml Pesto
Spek
Mozzarella Kaas, gerasper

Rol die deeg dun uit, druk vas in ‘n bakplaat.

Ontvel en kap die pruimtamaties op.  Meng met pesto.  Smeer oor die deeg.

Pak ‘n paar repe spek op en rasper mozzarella-kaas bo-oor.

Bak by ‘n hitte van 220°C vir 10 – 12 minuted totdat die kors gaar is.

WENK:    Sprinkel olyfolie oor en bedien dadelik.  Parmesaankaas kan ook bo-oor gesprinkel word.  Ekstra vars gemaalde swart peper bo-oor maak dit nog lekkerder.
DONDERDAG
HOENDERLEWERTJIES

Ryk en lekker!

Benodig:

2 (250g) Hoenderlewers, gewas en skoongemaak
3 middelslag Uie, in ringe gesny
Vars gemaalde seesout, swart peper
Gedroogde Knoffel vlokkies
½ koppie Peri-Peri (Knorr)
½ koppie Sonneblomolie
3 eetlepels Bisto
300 – 350ml Water
½ koppie Perskeblatjang

Gooi die olie en peri-peri sous in ‘n braaipan en sorteer die uie daarin.

Geur die hoenderlewers met sout, peper en knoffel.

Sodra die uie deurskynend is word die hoenderlewers bygevoeg, roerbraai tot gaar.

Maak die bisto aan met die water, voeg blatjang by.  Gier oor hoenderlewertjies en roer goed deur.  Laat prut oor lae hitte vir ongeveer 7 minute of totdat die sous lekker dik is.

Bedien onmiddellik.
VRYDAG
HAMBURGER

Benodig:

500g beesmaalvleis
1 Eier, geklits
1 sny Witbrood (rasper)
100ml Melk
Sout en vars gemaalde swartpeper
10ml Worcestersous
60ml Pietersielie, fyn gekap


Meng die al die bestanddele vir die vleiskoekie in ‘n groot mengbak.  Verdeel die maalvleismengsel in vier en vorm elk in ‘n koekie.  Gebruik ‘n maatkoppie of metaalvormpie om ewe groot vleiskoekies te vorm.  Verkoel

Verhit olie in ‘n braaipan en braai die vleiskoekies tot medium gaar of na smaak.

Maak nou jou eie hamburger verder.

WENK:    Maak die vleiskoekieresep ‘n paar maal aan en bevries dit wat jy nie dadelik gaan voorsit nie.  Bedek elke koekie individueel met kleefplastiek.  Dit kan sowat 3 maande gevries bly.