Friday 27 May 2011

Spyskaart en Resepte Week 2


- ˜ - - ˜ - -˜ - - ˜ -

SPYSKAART WEEK 2

MAANDAG               Vinnige Pilchards-gereg op rys

DINSDAG                 Spaghetti Bolognaise

WOENSDAG             Hoenderkerrie op Koeskoes

DONDERDAG          Gevulde pannekoek

VRYDAG                   Oxtail Potjie


RESEPTE WEEK 2

MAANDAG

PILCHARDS-GEREG

Hierdie is ‘n heerlike gereg en kan ook gebruik word as ‘n lekker vulsel vir vetkoeke.

Benodig:

1 Ui, fyn gekap
2 Wortels, geskil en in julienne repe gesny
1 Seldery steel, in ringe gesny
1 blik (425g) Sardine in tamatie, gevlok
Suurlemoensap en skil
2ml Gemengde kruie
Sout en vars gemaalde swartpeper

Sorteer die ui, wortel en seldery in ‘n bietjie olie tot sag.

Voeg die sardine in tamatie by en geur met suurlemoensap en –skil.  Geur ook met gemengde kruie asook sout en peper na smaak.  Laat 5 min lank prut.


DINSDAG

SPAGHETTI BOLOGNAISE

Die bestanddele lyk baie, maar dit is die moeite werd om te maak en glad nie so ingewikkeld soos dit lyk nie.  Dit is baie lekker..

Benodig:

125 ml Olie
4 Uie, gekap
2 Wortels, gerasper
1.5kg Beesvleis (maalvleis)
3 x 410g blikke Tamaties
4 x 60g pakkies Tamatiepasta
5ml droë Basiliekruid
Knippie droë Roosmaryn
Knippie droë Origanum
30ml Suiker
Sout en peper na smaak
375ml Groente- of beesaftreksel
500g Spaghetti

Verhit die olie en braai die uie en knoffel saam tot sag.  Voeg die maalvleis by en roer tot gaar.  Voeg die res van die bestanddele by (behalwe die spaghetti), bring tot kookpunt en prut op ‘n lae hitte vir ongeveer 2 ure.

Kook intussen die spaghetti volgens die instruksies op die pak.

Bedien die pasta saam met die sous.

VARIASIE:   Voeg een of sommer almal by-
                        2 Groenrissies, fyn gekap
                        1 klein bossie Seldery, fyn gekap
                        300g Spinasie, fyn gekap

WENK:          Die sous kan baie maklik gevries word en gebruik word op ‘n later stadium.


WOENSDAG

HOENDERKERRIE – 6 porsies

Hierdie resep word deur Zainie Misbach van die Noon Gun Restaurant in die Bo-Kaap gebruik.

Benodig:
1 eetlepel Olie
2 groot Uie, fyngekap
1 groot Tamatie, fyngekap
1kg Hoender, in blokkies gesny
1 eetlepel knoffel, fyngedruk
1 eetlepel gemmer, gekap
1 teelepel Suiker
1 teelepel fyn Koljander
1 teelepel fyn Komyn
1 teelepel rooi Masala*
1 eetlepel Borrie
Sout en peper na smaak
2 koppies Water
3 groot Aartappels, geskil en in kwarte gesny

Verhit die olie en braai uie tot gaar.  Voeg die tamaties, hoender en al die spesery by en braai tot gaar.  Voeg 1 koppie water by en prut vir 5 minute voor die aartappels bygevoeg word.  Voeg dan die res van die water by, plaas die deksel op en kook op lae hitte tot die aartappels sag is.

*        Masala is ‘n geurige mengsel speserye wat in kerrie, breyani en atjar gebruik word.  Daar is bae verskillende soorte, insluitende droë en nat massala.  Dit is verkrygbaar by meeste supermarket en speserywinkels.


DONDERDAG

PANNEKOEK

Benodig:

1 koppie Meel
1 Eier
¼ koppie Olie
1 teelepel Bakpoeier
2 koppies Water
½ eetlepel Asyn
Sout na smaak

Klits die eiers en water saam.  Sif meel, sout en bakpoeier saam en voeg by.  Voeg olie by.

Meng en bak.  Dit is nie nodig om olie in die pan te gebruik nie, die olie is reeds in die beslag.


WENKE:

*        Wanneer ‘n vleisvulsel gebruik word, dit is redelik styf/dik, smeer die vulsel oor die pannekoek en rol die pannekoek op soos gewoonweg.
*        Wanneer die vulsel dun is, plaas die vulsel in die middel van die pannekoek, en vou dan die pannekoek om die vulsel.


VRYDAG

OXTAIL / BEESSTERT

Hierdie sal altyd een van my gunstelling resepte bly.

Benodig:

Koekmeelblom, gegeur met sout en peper
2kg Beesstert, in litte gesny
25ml Sonneblomolie
3 Uie, gesny
20ml Knoffel, fyn gekap
2 blikke (410g) heel geskilde Tamaties, grof gesny
1 pakkie (50g) Tamatiepasta
500ml droë Witwyn
125ml Port (optioneel)
Vars gekapte kruie na smaak

Skep genoeg gegeurde meel in ‘n plastieksak en voeg die beesstert by.  Skud die sak tot die vleisporsies goed met die meel bedek is.

Verhit die olie in ‘n groot kastrol en verbruin die beesstert rondom.  Skep die vleis uit die kastrol en hou eenkant.

Sorteer die uie in dieselfde kastrol tot glasig.  Voeg die knoffel by en sorteer nog 2 minute.  Voeg die beesstert, tamaties, tamatiepasta, wyn, port en vars kruie by en roer goed.

Bedek en laat prut 4 – 6 uur oor matige hitte tot die vleis van die bene begin loskom.

Roer elke 30 minute goed.  Indien te veel vloeistof verdamp, voeg nog witwyn by.

WENK:    Ek gou altyd ‘n paar baba wortels by vir ‘n bietjie meer kleur.