Friday, 7 September 2018
Kaaspannekoek
Kaaspannekoek
LEWER 12-16 pannekoeke.
Bestanddele:
Vulsel:
60 ml botter
1 middelslag-ui, gekap
1 middelslag- rooi, groen en geel soetrissie, gekap
250 ml cheddarkaas, gerasper
50 ml vars pietersielie, gekap
Kaassous:
15 ml botter
30 ml koekmeel
sout na smaak
5 ml growwe swartpeper
250 ml melk
100 g cheddarkaas
50 ml vars pietersielie, gekap
Pannekoeke:
150 g koekmeel
15 ml speserymengsel met knoffel, suurlemoen en pietersielie
60 ml papawersaad
90 ml sesamsaad
3 eiers, geklits
350 ml melk
50 ml botter, gesmelt
sout na smaak
Metode:
Vulsel:
Smelt die botter en smoor die gekapte ui en soetrissies 3-5 minute. Laat effens afkoel. Roer die res van die bestanddele by en hou eenkant tot benodig.
Kaassous:
Smelt die botter in ’n klein kastrol. Voeg die meel, sout en peper by. Kook 30 sekondes. Voeg die melk by en roer tot dik en romerig.
Verwyder van die hitte en roer die cheddar en pietersielie by. Plaas kleefplastiek oor die sous om te keer dat ’n vel vorm. Hou die sous eenkant.
Pannekoeke:
Sif die koekmeel in ’n bak. Voeg die speserymengsel en die twee soorte sade by en meng.
Klits die eiers, melk, botter en sout in ’n afsonderlike bak en klits goed.
Maak ’n holte in die meelmengsel, giet die eiermengsel daarin en klits tot glad. Laat staan 30-60 minute.
1. Verhit ’n pannekoekpan, bespuit met kleefwerende sproei en bestryk met die gesmelte botter.
2. Voeg, indien nodig, ’n bietjie melk by om die beslag te verdun. Giet 45 ml beslag in die pan en bedek dit 1-2 minute totdat die pannekoek onder goudbruin is.
3. Draai die pannekoek in die pan om en bak 30 sekondes. Keer die pannekoek dan op ’n bord uit. Herhaal met die res van die beslag. Stapel die pannekoeke opmekaar, met botterpapier tussenin.
Om voor te sit:
Smeer vulsel oor die een helfte van ’n pannekoek en vou ’n driehoek. Giet sous oor. Herhaal. Sit die pannekoeke een-een voor.