Friday 7 September 2018

Dekadente sjokoladekoek



Dekadente sjokoladekoek
Bestanddele:
1.5 k koekmeelblom
1.5 k suiker
3/4 k kakao
1 1/2 t koeksoda
1 t bakpoeier
3/4 t sout
3/4 k karringmelk
3/4 k espresso, effens afgekoel
1/4 k sonneblom- of canola-olie
2 t vanielje-ekstrak
2 groot eiers
Metode:
1. Verhit die oond tot 180 grade.
2. Voer twee 20 cm koekpanne uit met bakpapier of smeer goed met botter.
3. Sif die meel, kakao, koeksoda, bakpoeier en sout in ’n groot mengbak saam; meng nou die suiker by.
4. Meng die res van die bestanddele in ’n aparte bak en begin dan die nat mengsel geleidelik by die droë bestanddele voeg. Meng tot jy ’n donker, gladde beslag het.
5. Verdeel die beslag tussen die twee panne en bak vir 30 – 35 minute, totdat die bokant ferm voel as jy daaraan raak. (Ontspan, hierdie is nie een van daardie koeke wat gaan platval as jy dit waag om die oonddeur oop te maak nie.)
6. Verwyder van die oond en gebruik ’n vadoek om die bokante van die lae koek effens af/plat te druk – dit maak dit makliker om te versier. Laat staan eenkant om af te koel.
Vir die versiersel:
Smelt 70 g witsjokolade in sowat 45 ml room. Laat dit afkoel en meng goed met een houertjie gladde roomkaas en 1 t rooswater tot glad. Sif nou geleidelik versiersuiker by (minstens 500 g) tot die versiersel die tekstuur van jou smaak het – vir ’n laagkoek moet dit redelik stewig wees, anders gaan die versiersuiker onhandig uitpeul langs die kante wanneer jy die twee lae opmekaar plaas. Een druppel pienk kleursel sal genoeg wees vir die vrolike pienk skakering waarna ek opsoek was.
Vir die grondboontjiebotter-versiersel, vervang die sjokolade en room met 2/3 k gladde grondboontjiebotter, en die rooswater met 2 t vanielje-ekstrak.