Tuesday 28 August 2018

Quinoa en Blomkoolkoekies



Geure Uit Die Vallei - Quinoa en Blomkoolkoekies
Afgesien van die feit dat hierdie koekies wheat and glutenfree en vegetaries is, is hulle vreeslik lekker en baie maklik om te maak. Somtyds sit ek ‘n bietjie spinasie of brokkoli by vir ekstra kleur en gesondheid.
1K (250ml) Quinoa, gekook volgens die aanwysings op die verpakking
1 ½ C (375ml) Blomkool, in blommetjies gebreek
4 Eiers
6 Sprietuie, dun gesny
1 Knoffelhuisie, fyngekap
¾ K (180ml) of Hawermout
Sout & Peper na smaak
2E (30ml) Vars Kruie soos Pietersielie, Grasuie, Koljander of Kruiesement, gekap
½ C (125ml) Fetakaas, gekrummel
Vir die Tamatiesous:
10 Ryp Tamaties, in kwarte gesny
1 Groot Ui, geskil en grofgekap
2 Knoffelhuisies, grofgekap
2 Takkies vars Kruie soos Tiemie, Roosmaryn of Origanum
½ K (125ml) Water
Sout & Peper na smaak
Begin om die sous te maak:
Plaas al die bestanddele vir die sous in ‘n oondpan, bedek die bak met foelie en bak in ‘n voorverhitte oond van 150ºC vir ten minste 60 minute.
Verwyder die oondpan en skep die groente met al die sous in ‘n mengbak en maak dit fyn met ‘n handmenger. Jy kan die sous vooraf maak en in die yskas hou.
Plaas die stukkies blomkool in ‘n voedselverwerker en maak dit fyn, amper soos growwe krummels, skep die blomkool in ‘n groot mengbak in.
Gooi nou die hawermout in die voedselverwerker en maak dit ook fyn, skep die hawermout nou by die blomkool in die mengbak.
Plaas die res van die bestanddele in die mengbak en roer met ‘n lepel. Laat die beslag vir 10 minute staan voordat jy die koekies begin vorm.
Vat sowat ‘n opgehoopte eetlepel van die beslag en vorm dit met jou hande in ‘n balletjie wat jy dan effens plat druk tot sowat 1cm dik. Plaas die koekies dadelik in ‘n warm kleefvrye pan met ‘n bietjie olyfolie. Braai hulle vir sowat twee minute aan elke kant tot mooi bruin, bros en ferm as jy daarop druk.
Plaas die gaar koekies op kombuispapier om die orige olie te verwyder.
Bedien die koekies saam met die tamatiesous en ‘n slaai op die kant