Tuesday 28 August 2018

Gevulde Aartappelskille



Geure Uit Die Vallei - Gevulde Aartappelskille
Bedien 6 as ‘n ligte maaltyd
3 Groot Aartappels, gewas
2E (30ml) Olyfolie
1 Ui, fyngekap
2 Knoffelhuisies, fyngekap
½ K (125ml) Vars of gevriesde Ertjies
½ K (125ml) Vars of gevriesde Pitmielies
2E (30ml) Vars kruie soos Pietersielie, Koljander, Grasuie of Kruisement, grofgekap
2 Hoenderborsies, in blokkies gesny
Sout & Peper na smaak
1K (250ml) Harde Kaas, gerasper
Metode:
Begin deur die artappels in die oond te bak teen 180ºC vir sowat 60 minute tot gaar. Verwyder die aartappels uit die oond en laat hulle effens afkoel sodat jy hulle makliker kan hanteer. Sny die aartappels in die helfte deur en verwyder die binneste gedeelte met ‘n lepel en probeer om die skil mooi heel te hou. Hou die sagte binnekant eenkant vir later.
Sit die aartappelskille terug in die oond en bak hulle vir ‘n verdere 20 minute tot lekker bros.
Terwyl die skille bak kan jy solank die vulsel begin deur die gekapte ui in die olyf olie te braai in a groot pan. Sodra die ui begin sag word kan jy die knoffel byvoeg gevolg deur die blokkies hoender. Roer vir ‘n paar minute tot die hoender amper gaar is, voeg nou die ertjies, mielies en die binnekante van die aartappels by. As jy wil kan jy speserypoeier byvoeg vir ekstra geur.
Braai die vulsel tot die aartappel lekker bros begin word, teen die tyd sal die hoender reeds gaar wees. Verwyder die pan van die hitte af en voeg die helfte van die kaas by gevolg deur die sout, peper en die vars kruie, roer om al die bestanddele te meng.
Verdeel die vulsel tussen die aartappelskille en sprinkel die laaste kaas bo-oor. Sit die gevulde skille terug in die oond vir 20 minute. Verwyder uit die oond en laat vir 5 minute afkoel voor bediening.