Thursday 21 June 2018

Weskusviskerrie

Weskusviskerrie
Genoeg vir 6
BESTANDDELE
olyf- of avokado-olie, vir vlakbraai
2 uie, gekap
stukkie gemmer, 3 cm lank en fyngerasper
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml kerriepoeier
5 ml paprika
30 ml tamatiepasta
1 kg witvisfilette, sonder vel en grate
250 ml visaftreksel
500 g halfskulpmossels, ontdooi
30 ml mielieblom
1 blik (400 g) klappermelk
15 ml bruinsuiker
’n hand vol koljander, fyngekap
rys en suurlemoenskyfies vir opdiening
METODE
1. Verhit die olie oor matige hitte in ’n pan en soteer die uie, gemmer en knoffel. Roer die kerriepoeier, paprika en tamatiepasta by. Sny die vis in happiegrootte blokkies en voeg saam met die aftreksel en mossels by die uiemengsel. Bedek en laat die kerrie 25 minute prut tot gaar.
2. Meng die mielieblom met ’n bietjie klappermelk tot ’n gladde pasta. Voeg die mielieblommengsel, die res van die klappermelk en die suiker by die kerrie. Verhit sonder dat die kerrie kook. Geur. Meng die koljander by. Dien op saam met die rys en suurlemoenskyfies.