Tuesday 10 April 2018

Lensie bolognaise



Lensie bolognaise
Spaghetti bolognaise is ’n bekende gunsteling, maar probeer gerus dié vegetariese weergawe. Dit is enige tyd net so geurig en as iemand dit nie weet nie, sal hulle selfs dink hulle eet vleis.
Wenke:
1. Vervang rooi lensies met bruin lensies en prut 30-40 minute of tot net gaar. Geur met ekstra tamatiepasta en voeg 10-15 ml gemaalde koljander ook by.
2. Gebruik die lensies soos enige maalvleismengsel. Sit dit op gebakte aartappels, in pitas of op bruinrys voor of berei ’n vegetariese lasagne deur dit tussen lae gaar eiervrugskywe of pastavelle, met ’n kaassous bo-oor, te pak. Dis ook ’n heerlike vulsel vir gebakte botterskorsie-helftes of pannekoeke.
Bestanddele
15 ml olyfolie
2 uie, gekap
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
2 middelslag wortels, grof gerasper
1 selderystingels, gekap
1 groen of rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
25 ml gedroogde gemengde kruie
200 g (250 ml) rooi lensies, deurgesoek vir klippies
1 x 400 g-blik heel geskilde tamaties, gekap
1 x 65 g-blik (60 ml) tamatiepasta
625 ml groenteaftreksel
5 ml suiker
10 ml Worcestersous
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
5 ml fyngerasperde suurlemoenskil
10 ml suurlemoensap
20 ml gekapte vars, of 10 ml gedroogde origanum
gaar spaghetti of ander pasta van jou keuse om op voor te sit
125 ml fyngerasperde Parmesaan- of Cheddarkaas
pesto van jou keuse om mee voor te sit (opsioneel)
Metode
Verhit olie oor matige hitte in ’n kastrol en soteer uie en knoffel tot sag.
Voeg orige groente en gemengde kruie by en soteer nog ’n paar minute.
Roer lensies, tamaties, tamatiepasta, aftreksel, suiker en Worcestersous by en sit die deksel op.
Verlaag hitte en prut 20 minute of tot die lensies net sag, maar nie pap is nie. (Die lensies word liggeel wanneer dit gaar is.)
Geur lensies na smaak met sout, peper, suurlemoenskil, -sap en origanum.
Sit voor op pasta met kaas, lepelsvol pesto (indien gebruik) en ’n bietjie olyfolie.
(RSG)