Tuesday 10 April 2018

Dik spaghetti-pannekoek met kebabs




Dik spaghetti-pannekoek met kebabs
Genoeg vir 4 – 6 mense
Bereiding:  20 – 30 minute
Staantyd:  paar minute of oornag
Gaarmaaktyd:  15 – 20 minute

KEBABS
400g steak
1 rooi soetrissie
1 geel soetrissie
125g sampioene

Sny die steak en soetrissie in 2cm bloke.  Ryg die steak, soetrissie en sampioene op sosatiestokkies.  Rangskik die kebabs in ‘n plat glasbak.

MARINADE
30ml balsemieke asyn
45ml olyfolie
Sap en skil van een suurlemoen
30ml heuning
Sout en vars gemaalde swartpeper
1 brandrissie, fyn gekap

Meng al die bestanddele vir die marinade en giet dit oor die kebabs.  Marineer ‘n paar minute (of oornag).  Verhit ‘n riffelpan en braai die kebabs ‘n paar minute tot net gaar.  Geur met sout en peper en hou eenkant.


PANNEKOEK
250g spaghetti
4 eiers, geklits
80ml room
80ml cheddarkaas, gerasper
15ml pietersielie, fyn gekap
Sout en vars gemaalde swartpeper
Olie vir vlakbraai

Kook die spaghetti tot al dente en dreineer.  Meng die gaar spaghetti met die eiers, room, kaas, pietersielie, sout en peper.  Deel die mengsel in twee en verhit die olie in ‘n pan.  Skep die een helfte van die mengsel in die verhitte pan, druk effens plat met ‘n eierspaan en braai oor matige hitte tot gaar.  Draai die dik pannekoek om en braai aan die anderkant tot gaar en goudbruin.  Herhaal met die res van die mengsel.  Verwyder die pannekoeke uit die pan, sny in skywe en sit voor saam met die kebabs en basiliepesto.

 
VIR VOORSIT
100ml basiliepesto