Friday, 22 September 2017

Suurlemoen poeding



Suurlemoen poeding
Al wat jy nodig het is…
Dubbel-room Griekse joghurt...
‘n Bottel suurlemoenbotter (‘lemon curd’ – kyk in die bakafdeling van supermarkte)
Pak koekies (ek het Bakers se Nuttikrust gebruik, maar Tennisbeskuitjies, gemmerkoekies of hawermout koekies werk net so goed)

Pak skuimpies (verkieslik die tuisnywerheid tipe, nie daai smaaklose spierwittes wat groot supermarkte vir ‘n appel en ui verkoop nie)
Sit die koekies in ’n plastiek toebroodjiesakkie. Gryp jou koekroller en raak van jou dag se frustrasies ontslae deur hulle te slat tot hulle bes gee. Dis vinniger om die koekies in jou voedselverwerker fyn te maak, maar nie naastenby so bevredigend nie.
Skep ’n lagie van die koekiekrummels in ’n bak. Meng die joghurt en suurlemoenbotter – ek verkies ’n 50/50 mengsel, maar besluit maar self wat vir jou lekker is. Skep die joghurt-suurlemoen mengsel bo-op die koekie laag. Pak hom vol skuimpies en bedien onmiddellik. Jy kan ’n groot een maak, maar ek verkies om individuele klein poedings te maak. Ek het dit al selfs in ‘shot’ glasies bedien – perfek vir onverwagse partytjie hordes!
http://www.melkkos-merlot.co.za