Tuesday 4 July 2017

MIELIEMEEL KAASSKONS



MIELIEMEEL KAASSKONS
Hier hoef jy nie eens skons uit te druk nie; jy bak eenvoudig die hele beslag in ’n pan en sny met etenstyd die panskon in wiggies.
■ 430 ml koekmeel
■ 180 ml mieliemeel (geel of wit)...
■ 15 ml bakpoeier
■ 5 ml elk koeksoda en sout

■ 60 g koue botter, in blokkies gesny of grof gerasper
■ 500 ml gerasperde cheddarkaas
■ 60 ml fyngerasperde parmesaan
■ 15 ml fyngekapte tiemieblaartjies (of ander vars kruie van jou keuse)
■ Ongeveer 330 ml karringmelk of suurmelk
Voorverhit die oond tot 220°C en voer ’n oondvaste pan van 20 cm uit met ’n stuk gesmeerde bakpapier.
Meng die koekmeel, mieliemeel, bakpoeier, koeksoda en sout saam en vryf die botter daarby in tot die mengsel soos growwe krummels lyk. Roer die kase en kruie by.
Voeg die helfte van die karring- of suurmelk by en sny dit by die droë bestanddele in, terwyl jy nog van die melk bietjie vir bietjie byvoeg tot ’n deeg vorm. Druk die deeg bymekaar en sit dit in die pan.
Druk liggies met jou vingerpunte om die deeg egalig uit te sprei. Gebruik ’n eierspaan of paletmes en verdeel die skon in 8-10 eweredige wiggies. Bak vir 12-15 minute tot goudbruin en deurgaar.
Sit louwarm voor met botter en kaas. Lewer 8-10 porsies.