Wednesday 14 June 2017

Rooiborsduif-brownies



Karien van den Berg se Rooiborsduif-brownies
sowat 12 blokkies

• 225 g (245 ml) botter
• 300 g goeie donkersjokolade...
• 3 eiers
• 225 g (265 ml) strooisuiker
• 30 ml sterk swart koffie
• 75 g (130 ml) koekmeel
• ’n knippie sout
• 100 g haselneute, gerooster en grofweg gekap
• 100 g pekanneute, gerooster en grofweg gekap
• 5 ml vanieljegeursel
• 45 ml (3 groot eetlepels) Nutella, effens versag in die mikrogolfoond

Voer ’n 27 x 19 cm-koekpan uit met tinfoelie. Verhit oond tot 180 °C. Smelt botter en sjokolade op lae hitte in ’n mikrogolfoond. Roer elke 30 sekondes.

Laat afkoel tot kamertemperatuur. Klits eiers, suiker en koffie tot romerig en glad in ’n mengbak. Voeg sjokolademengsel geleidelik by. Sif meel en sout oor sjokolademengsel en vou versigtig in. Voeg neute en vanielje by.

Skep helfte van mengsel in uitgevoerde pan. Drup lepels vol loperige Nutella bo-oor. Gooi res van beslag versigtig bo-oor, sodat Nutella ’n lagie in die middel vorm. Die laag smelt weg tydens die bakproses, maar dit sorg vir daardie ekstra bietjie “kou” in die middel.

Bak 40-45 minute. Haal uit oond, maar los in pan om af te koel. Haal uit pan en maak heeltemal toe met tinfoelie. Bêre in yskas, verkieslik tot volgende dag. Sny in blokke en sit voor met sjokoladesous van jou keuse.