Wednesday, 10 May 2017

TAMATIE BREDIE



TAMATIE BREDIE
2 groot uie, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
10 swartpeperkorrels
8 heel naeltjies
10 wonderpeperkorrels
125 ml (½ k) water
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
1 kg lams-stowevleis, soos rib, nek, skenkels, of blad, in stukkies gesny
3 kaneelstokkies
6 kardemompeule, gekneus
20 ml (4 t) fyngerasperde vars gemmer
25 ml (5 t) gemaalde koljander
1 kg baie ryp tamaties, geskil en gekap
30 ml (2 e) tamatiepasta
1 klein rooi brandrissie, gekap (ontpit, indien verkies)
3 middelslag aartappels, geskil en in blokkies gesny
sout, peper, suurlemoensap en knippie suiker na smaak
gekapte vars Italiaanse pietersielie vir garnering
METODE
Plaas uie, knoffel, peperkorrels, naeltjies en wonderpeper in ‘n groot kastrol. Voeg water by en bring oor matige hitte tot kookpunt. Laat prut sonder deksel tot al die water verdamp het en die geure aromaties is. Voeg olie by en soteer uie tot goudbruin.
Roer vleis, kaneel, kardemom, gemmer en koljander by. Verlaag hitte, plaas deksel op en prut sonder ekstra vloeistof 30 minute.
Voeg tamaties, -pasta en brandrissie by en geur na smaak. Prut nog 30 minute, voeg aartappels by en prut stadig vir 1 uur of tot aartappels en vleis gaar en sag is. Hoe stadiger die vleis prut, hoe sagter sal dit wees.
Geur na smaak met sout, peper, suurlemoensap en suiker, indien nodig. Garneer met pietersielie en sit saam met rys, koring, koeskoes of mieliepap voor.
WENKE
Hoenderbredie: Maak dieselfde resep met hoender, maar kook alles van punt 2 gelyk saam vir net 45 minute.
Pampoenbredie: Vervang tamaties met pampoen of botterskorsie, in blokkies gesny en 125 ml hoenderaftreksel. Voeg pampoen gedurende laaste 45 minute van gaarmaaktyd by, Laat aartappels weg en vervang tamatiepasta met 20 ml sagte bruinsuiker. Verdik sous indien nodig.