Wednesday 10 May 2017

CANNELLONI MET GEROOSTERDE WINTERGROENTE EN KAAS



CANNELLONI MET GEROOSTERDE WINTERGROENTE EN KAAS
Genoeg vir:
6-8
Bereidingstyd:
1 uur
Gaarmaaktyd:
40 minute
Oondtemperatuur:
180 °C
1 kg gemengde winter-groente
3 ryp tamaties, grofgekap
olyfolie
3 knoffelhuisies, geskil en gekap
3 selderystokkies, gekap
5 ml droë basilie
2 ml droë tiemie
50 ml botter
1-2 rooi-uie, middeldeur en dan dun opgesny
1 boks cannelloni-buisies
80 ml gerasperde cheddar
30 ml parmesaan
roket vir garnering
KAASSOUS

110 ml (100 g) botter
125 ml koekmeel
1 liter melk
100-200 ml gekrummelde bloukaas
METODE
Skil en sny die groente in klein blokkies of stukkies op – ons het pampoen, wortels, witwortels, patat, blomkool en eiervrug, gesout en
afgespoel, gebruik, maar jy kan enige groente van die seisoen gebruik. sit die groentestukkies saam met die tamaties in ’n oondpan.
Gooi lekker baie olyfolie oor. Voeg dan die knoffel, seldery en kruie by en meng goed deur.
Bedek met foelie en rooster vir 20 minute in die verhitte oond.
Haal die foelie af, roer deur en rooster sonder die foelie vir nog 20 minute of tot die groente karamelliseer en effens geskroei raak.
Terwyl die groente in die oond is, kan jy die botter in ’n kastrol verhit. Voeg die rooi-ui by en soteer tot sag.
KAASSOUS
Verhit die botter in ’n kastrol. Voeg die meel by en roer vir ’n minuut tot glad. Haal van die plaat af.
Voeg die melk bietjies-bietjies op ’n slag by en roer die heeltyd.
Sit terug op die plaat en roer tot verdik. Roer die bloukaas by. Haal van die plaat af en geur na smaak.
Haal die groente uit die oond sodra dit sag is. Voeg omtrent 100-150 ml van die bereide kaassous by.
Geur na smaak met sout en varsgemaalde swartpeper.
Skep die groentemengsel in die cannelloni-buisies en pak dit in ’n gesmeerde oondbak sodat hulle netjies langs mekaar lê.
Smeer die gekaramelliseerde uie oor die buisies. Gooi die res van die sous bo-oor om dit oraloor te bedek.
Strooi die cheddar en parmesaan oor. Bak in die verhitte oond vir 40 minute of tot die cannelloni sag is. Garneer met roket en sit voor.