Friday 7 April 2017

Simnelkoek

 
 

Simnelkoek

Dié bekende Paasfeeskoek het sy oorsprong in Frankryk. Dit word nie, soos die meeste vrugtekoeke, ryp gemaak voor dit geëet word nie. Simnelkoek word tradisioneel met ’n lagie marsepein versier en kry dan elf marsepeinballetjies bo-op. Dié elf balletjies verteenwoordig die elf getroue dissipels (die twaalfde een, wat Judas verteenwoordig, word uitgelaat.)

750 g marsepein
80 ml botter
200 ml strooisuiker
4 groot eiers
375 ml koekmeel
3 ml bakpoeier
10 ml gemengde speserye
500 g luukse-vrugtekoekmengsel

Voorverhit die oond tot 150 °C. Smeer ’n hoë losboomkoekpan van 18 cm en voer die bodem en kante met bakpapier uit. Deel die marsepein in drie gelyke dele. Draai die een in kleefplastiek toe en hou eenkant. Rol die ander ongeveer so groot soos die pan uit en sny ’n sirkel so groot soos die pan se bodem uit elkeen. Verroom die botter en suiker goed. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Sif die meel, bakpoeier en speserye bo-oor. Voeg die vrugtekoekmengsel by en roer tot gemeng. Skep die helfte van die beslag in die pan. Sit een van die marsepeinsirkels op die beslag en skep die res van die beslag bo-op. Maak gelyk en bak vir twee uur tot gaar. Deel intussen die orige stuk marsepein in elf ewe groot stukkies en rol in balletjies. Laat vir tien minute in die pan afkoel en verhit intussen die oondrooster. Keer die koek uit. Plaas die tweede marsepeinsirkel bo-op die koek en pak die marsepeinballetjies op. Druk die koek vinnig onder die oondrooster tot die marsepeinlaag en -balletjies ligbruin is. Laat afkoel en bêre in ’n lugdigte houer. Lewer 11 porsies.