Wednesday 18 January 2017

Vis-en-tjips met tartaresous




Vis-en-tjips met tartaresous
Jy benodig (genoeg vir 4)

VIR DIE TJIPS
• sonneblomolie vir diepbraai
• 8 aartappels, in dun repies gesny (jy kan die aartappels goed was en dit met skil en al sny)


VIR DIE TARTARESOUS
• ½ koppie (125 ml) mayonnaise
• 1 eetlepel (15 ml) ingelegde kappertjiesaad
• 2 eetlepels (30 ml) piekelkomkommer, fyngekap
• 1 hardgekookte eier, fyngekap
• 1 eetlepel (15 ml) vars pietersielie
• 2 eetlepels (30 ml) gekapte ui
• sout en peper na smaak


VIR DIE VIS
• 1¾ koppie (435 ml) bruismeel
• 3 teelepels (15 ml) bakpoeier
• ’n knippie sout
• 1 blikkie (330 ml) bier
• sout en peper na smaak
• 4 stokvisporsies van 300 g elk, met of sonder vel en grate


Só maak jy
1. Maak die tjips: Verhit die olie in ’n groot pot tot dit dadelik begin borrel as jy ’n aartappelskyfie daarin gooi.
2. Braai die tjips vir sowat 10 minute in die olie tot dit mooi kleur kry. As die olie rook, is dit te warm. Skep die gaar tjips met ’n gaatjieslepel uit en dreineer dit op kombuispapier. Hou dit eenkant.
3. Maak die tartaresous: Meng die mayonnaise, kappertjiesaad, piekelkomkommer, eier, pietersielie en ui en geur dit met sout en peper.
4. Maak die vis: Meng 1½ koppie (375 ml) van die meel met die bakpoeier en ’n knippie sout en roer die bier met ’n vurk by. Moenie al die bierborrels uitklits nie  – dié beslag kan eerder nog klontjies hê.
5. Geur die ander ¼ koppie (60 ml) meel goed met sout en peper. Rol elke visfilet in die gegeurde meel tot dit oraloor bedek is, en skud die oortollige meel goed af. Doop elke stukkie vis in die beslag en laat die oortollige beslag afdrup.
6. Braai die visstukke twee-twee vir 5-10 minute in ’n pan tot hulle goudbruin aan albei kante is. Sit die gaar vis op kombuispapier sodat die olie kan dreineer.
7. Gooi die tjips weer in die olie en bak dit tot dit mooi goudbruin en bros is.


WegSleep sê: Kabeljou en skelvis werk ook lekker vir hierdie resep.