Tuesday 31 January 2017

Gevulde pannekoek



Gevulde pannekoek

Pannekoek is baie ekonomies en troef byna enige toebroodjie – vra maar vir die kinders! Een baksel lewer ongeveer 10 en kan ’n paar dae in die yskas hou....

Vir die beslag

• 500 ml koekmeel
• 2 ekstragroot eiers
• 625 ml water
• 5 ml sout

• 15 ml suiker
• 15 ml groenteolie
• ekstra kookolie vir panbraai

Vir die vulsel (per pannekoek)

• 15 ml mayonnaise
• 3 velle salami
• ’n hand vol gerasperde cheddarkaas
• 2 slaaiblare, fyngesny

1. Klits die meel, eiers, water, sout, suiker en olie in ’n groot mengbeker saam tot glad.

2. Verhit ’n kleefvrye pan oor matige hitte. Gebruik ’n hittebestande kwassie om dit met olie te smeer (of gebruik ’n stuk gevoude kombuispapier wat in olie gedoop is).

3. Wanneer die pan warm genoeg is, gooi genoeg beslag in die pan om die bodem net-net te bedek – versprei die beslag oor die hele bodem. Wanneer die beslag aan die bokant gestol is, draai die pannekoek om met ’n spaan en bak nog ’n minuut of twee tot liggies verbruin.

4. Haal uit die pan, herhaal en stapel op mekaar. Sit warm of teen kamertemperatuur voor met ’n vulsel van jou keuse.

5. Vir die vulsel: Smeer die mayonnaise op die pannekoek en bedek dan met die salami, kaas en slaaiblare. Rol styf op en sny in happies.

Wenk: Vervang die koekmeel met Nutty Wheat vir ’n veselryke pannekoek.

(Tuis)