Tuesday 31 January 2017

Gerookte Skelvis-quiche




Gerookte Skelvis-quiche
(4 klein quiches, of 1 van 20 cm)

Deeg
200 g (360 ml) koekmeel...
2 ml sout
100 g (110 ml) ongesoute botter, in blokkies gesny
4 – 6 eetlepels koue water
Plaas die meel, sout en botterblokkies in jou voedselverwerker. Meng tot die botter goed in die meel ingewerk is. Voeg die water by en meng tot ’n deeg. Maak die deeg met kleefplastiek toe en laat rus in die yskas vir 30 minute. Verhit jou oond tot 180 °C. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Voer ’n 20 cm-losboom-quiche-pan of vier klein pannetjies van sowat 10 cm elk met die deeg. Voer met bakpapier, vul met droëbone en bak blind vir 20 minute.

Vulsel
600 g gerookte skelvis (haddock)
2 eiers
250 ml room
varsgemaalde swartpeper
Stoom die skelvis vir sowat 5 minute tot gaar. Vlok en plaas in die quiche-pan (of pannetjies) op die blindgebakte deeg. Klits die eiers en room saam en geur met swartpeper. Giet oor die vis en bak vir 30 – 40 minute tot gaar. Bedien warm.