Wednesday 23 November 2016

Roomyshorinkies




Roomyshorinkies
Maak: 6-8
Bereidingstyd: 20 minute
Gaarmaaktyd: omtrent 1 uur
...
Jy benodig
• 2 groot eiers
• 1 groot eierwit
• 105 g (125 ml) suiker
• 60 ml gesmelte botter, afgekoel
• 45 ml melk
• 45 g (80 ml) koekmeel, gesif

• sonneblomolie vir braai
• roomys, om voor te sit
• ’n stuk stewige karton
• kleeflint
• skoon teedoek
• klein sopieglasies

1 Klits die eiers, eierwit en suiker saam.
2 Voeg die gesmelte botter en die melk by.
3 Voeg die meel en ’n knypie sout by en klits dit tot die beslag glad is.
4 Sny die karton in ’n sirkel en rol dit in ’n kegel wat soos ’n roomyshorinkie lyk – dit is die vorm wat jy gaan gebruik. Plak die kante met kleeflint vas sodat die kegel sy vorm behou. Verhit ’n klein kleefvrye pannetjie oor matige hitte. Verf die pan met olie. Voeg ’n lepel vol van die beslag by en draai dit in die pan rond sodat die bodem met beslag bedek is. Maak dit vir ’n paar minute gaar tot dit goudbruin aan die onderkant is. Draai die ‘pannekoek’ om en maak die ander kant ook gaar.
5 Haal die ‘pannekoek’ uit die pan en draai dit vinnig om die kartonvorm om ’n horinkie te vorm. Gebruik ’n skoon teedoek om dit vas te druk en die vorm te behou – jy sal blitsig moet werk, want dit word nogal vinnig hard.
6 Verwyder die horinkie van die vorm en sit dit in ’n klein sopieglasie om verder hard te word. Herhaal die proses met die orige beslag. Vul die horinkies met roomys en sit dit dadelik voor.