Wednesday 23 November 2016

Geurige sout beestong met mosterdsous




Geurige sout beestong met mosterdsous
Beestong
■ 1-2 gepekelde beestonge
■ 5 peperkorrels
■ 1 wortel, geskraap en in stukke gesny
■ 1 ui, in kwarte gesny
Ouma Dinah se mosterdsous
■ 250 ml suiker
■ 250 ml wit asyn
■ 3 eiers
■ 10 ml mielieblom, aangemaak met
■ 100 ml water
■ 25 ml mosterdpoeier
■ Sout en witpeper na smaak
Vir die tong: Sit die heel tonge saam met die peperkorrels, wortel en ui in ’n drukpot. Voeg genoeg water by om die tong te bedek. Sit die pot se deksel op en verhit tot kookpunt. Kook vir 45-60 minute in die drukpot (of ongeveer 3 uur in ’n gewone kastrol) tot gaar en sag. Laat afkoel en trek die membraan rondom die tonge af. Verkoel die tonge in ’n lugdigte houer tot benodig.
Vir die mosterdsous: Klits die suiker, asyn en eiers liggies in kastrol tot die suiker opgelos is. Meng die mielieblom, water en mosterdpoeier tot glad. Voeg by die eiermengsel en verhit oor matige hitte tot kookpunt. Laat prut terwyl jy die sous roer tot dit verdik. Geur na smaak met sout en witpeper. Laat effens afkoel en bêre in ’n lugdigte houer in die yskas.
Sny die tong in skyfies en sit dit voor met die mosterdsous, growwe brood en slaaie. Lewer 8-10 porsies.