Wednesday 23 November 2016

Gerookte varkboud




Gerookte varkboud

2 kg rou, gerookte varkboud, verkieslik in ’n vleisnet
5 cmstuk vars gemmer, in skyfies gesny
1 ui, gehalveer...
Fyn sout

Smeermengsel
45 ml heuning
30 ml bruinsuiker
10 ml balsamiese asyn

Plaas die varkboud in ’n groot, diep kastrol saam met die gemmerstukkies en ui. Bedek heeltemal met koue water en verhit tot kookpunt. Laat kook die boud vir 30 minute per 500 g vleis (’n varkboud van 2 kg sal met ander woorde 2 uur lank kook). Verwyder die kastrol van die hitte en laat die boud in die aftreksel afkoel tot dit koud genoeg is sodat jy dit met jou hande kan uithaal sonder om te brand.

Voorverhit die oond tot 200ºC. Voer ’n groot bakplaat met foelie uit. Sit die varkboud, met die velkant na bo, op die bakplaat neer. Knip die vleisnet los indien die boud in ’n net was. Maak die vel versigtig aan die een kant van die boud los en trek dit stadig af. Jy behoort nou ’n egalige vetlaag op die boud te hê. Gebruik ’n skerp mes en maak vlak insnydings, 1 cm uitmekaar, diagonaal oor die vetkant van die boud. Wees versigtig om nie te diep te sny nie. Doen dit ook in die teenoorgestelde rigting sodat die vetlaag diamantvormige insnydings het. Besprinkel die vetlaag met fyn sout en laat staan vir 5 minute.

Meng die bestanddele vir die smeermengsel saam tot goed gemeng. Gebruik sommer jou hande en smeer die mengsel goed in die vetlaag in. Sit die boud in die oond en oondrooster tot die vetlaag bros en goudkleurig is. Laat die varkboud vir 10 minute rus, sny in skywe en sit voor met bykos. Lewer 8-10 porsies.