Thursday 20 October 2016

Tuisgemaakte melkkonfyt




Tuisgemaakte melkkonfyt - Huiskok
Gekookte kondensmelk – prutpotmetode (‘slow cooker’) MY KEUSE

My skoonma Bettie se bruin vintage prutpot uit die sewentigerjare word ingespan om my eie melkkonfyt te maak. Ek begin egter met ‘n blikkie gekoopte kondensmelk, so dis eintlik net half-tuisgemaak! Ek koop egter nooit die geblikte karamel nie, want hierdie metode is die maklikste ooit. Daar is geen gevaar van die blik deur die plafon nie, daar is geen geroer nie, dit is maklik om te sien of die karamel reg is, dit lyk lieflik in die glas-inlêflessies en jy hoef ook nie te wag tot dit afkoel om die eerste happie te skep nie. “You will never look back.”

Maak so:
1.Gooi die geblikte kondensmelk oor in skoon glasflessies, draai die deksel stewig toe, sit dit in die prutpot, gooi warm water oor tot by die dekselvlak, sit die prutpot op hoog* en vergeet daarvan vir die volgende 8 ure.
2.Haal dit met ‘n knyptangetjie uit en laat afkoel. Dit sal ‘n maand in die yskas hou (ja, ek lag ook – dit sal baie gouer verslind wees).

*Nuwerwetse prutpotte se hoog-verstelling is dalk warmer as my vintage-pot, en ek raai aan probeer dit die eerste keer op laag. As dit na 8 ure nie karamel is nie, sit dan op hoog.

Melkkonfyt – ‘gebakte’ kondensmelk – oondmetode
As jy nie ‘n prutpot het nie, en soos ek nie die drukpot wil inspan nie, is die oondmetode perfek. Jy hoef nie te roer nie, gedurende die bruinword nie, maar klits verwoed aan die einde. Dit kook in ‘n waterbad, so wees versigtig met die kookwater!

 1. Voorverhit oond tot 220°C. Gooi twee blikkies kondensmelk in ‘n Pyrex-tipe oondvaste bak, roer ‘n knippie sout by en bedek dit goed met foelie. Plaas die bak in ‘n roosterpan. Gooi kookwater in die roosterpan tot die bak kondensmelk tot dit halfpad in die water staan.
2.Bedek met foelie en bak sowat 2 ure. Indien jy dit donker verkies, bak vir 3 ure. Laat afkoel voordat jy die foelie afhaal. Klits goed tot glad.

Smaakwenke:
◦Ek geur my kondensmelk met een van die volgende geure: koffie-ekstrak, vanielje-ekstrak, kardomom, Earl Grey tee.
◦Verhit die flessie as jy die melkkonfyt meer vloeibaar wil maak as sous oor roomys.
◦Dis wonderlik oor Franse roosterbrood.
◦Roer dit by roomys in – hoekom so duur betaal vir Haagen Daz se dulche de leche roomys?
◦Melkkonfyt se soet word getemper met gevlokte seesout, asook deur dit te bedien saam met ietwat suur vrugte soos granaat, koejawel en pynappel.
◦Bedien melkkonfyt met pere gestowe in kaneel, pienk peperkorrels en vanielje. Sprinkel pimperneute oor vir tekstuur.
◦Bedien melkkonfyt met vars bokmelkkaas (chevre), pekanneute en broskoekies.
Doen-dit-self kondensmelk – op die stoofmetode
Maak dit gerus een keer en waardeer dan weer die gerief om net ‘n blikkie oop te maak. As jy egter jou eie koei het, veral, is dit lekker om die melk so te verwerk. Geduld is die wagwoord om dit nie te brand nie. Die doel is om die waterinhoud van die melk met sowat die helfte te verminder.

1 liter volroommelk
300 g strooisuiker
2,5 ml sout
2,5 ml koeksoda
5 ml vanielje-ekstrak (opsioneel)

Plaas die melk in ‘n dikboomkastrol of pan; hoe groter die oppervlak van die kastrol is hoe gouer sal die melk kan verdamp. Roer die suiker by en voeg dan die sout koeksoda en vanielje by. Plaas oor medium-lae hitte en bring stadig tot kookpunt, maar moenie roer nie. Die oomblik as die melk begin opkook draai die hitte tot baie laag. Laat dit so vir 2 tot 3 ure baie stadig sonder deksel net-net prut en gee dit elke 10 minute of so ‘n goeie roer. Skep enige skuim wat vorm af. Sodra dit dik is, gooi in gesteriliseerde flesse. Laat afkoel voor gebruik. Die sous sal verder verdik as dit afgekoel het.

Wenk:
◦Jy kan die melk ook geur met kaneelstokkies of kardomompeule.
◦Vir ‘n suiwelvrye weergawevan melkkonfyt, gebruik klappermelk en bruinsuiker. Roer vir ure!