Tuesday 11 October 2016

Koffiekoek




Koffiekoek

Maak: 1 x 23 cm-koek
Bereidingstyd: 25 minute
Baktyd: 40-50 minute...
Oondtemperatuur: 180 °C

• 30 ml botter
• 10 ml kitskoffiekorrels
• 4 groot eiers
• 210 g (250 ml) suiker
• 270 g (500 ml) koekmeel
• 10 ml bakpoeier
• 20 ml kakaopoeier

Botterversiersel
• 75 g sagte botter
• 190 g versiersuiker, gesif
• 15-25 ml sterk filterkoffie

Glansversiersel
• 15 ml botter
• 105 g (200 ml) versiersuiker, gesif
• 15 ml kakaopoeier
• 7 ml kitskoffiekorrels

1 Verhit die botter in ’n kastrol met 250 ml water tot dit smelt. Haal dit van die plaat af, roer die koffiekorrels by en laat dit afkoel.

2 Klits die eiers en suiker tot dit lig en dik is.

3 Sif die meel, bakpoeier en kakao oor die eiermengsel, net ’n bietjie op ’n slag, en vou dit baie liggies in voor jy die volgende bietjie oorsif.

4 Vou die bottermengsel versigtig in. Gooi die beslag in ’n gevoerde, gesmeerde 23 cm-koekpan en bak dit vir 40-50 minute in die verhitte oond, tot gaar. Laat die koek vir 20 minute in die pan afkoel. Keer dit op ’n draadrak uit om heeltemal af te koel.

5 Botterversiersel Klits die botter tot lig en donsig. Voeg die versiersuiker geleidelik by en klits goed. Voeg genoeg koffie by om ’n sagte, smeerbare versiersel te maak. Sny die koek middeldeur en smeer die onderste helfte met die sagte botterversiersel. Sit die boonste laag terug.

6 Glansversiersel Meng die botter by die versiersuiker. Meng die kakao en koffiekorrels saam met ’n bietjie kookwater. Roer dit by die versiersuikermengsel tot dit glad is. Skep die glansversiersel oor die koek sodra dit heeltemal afgekoel het.