Thursday 11 August 2016

Uil Koek - Bak ’n verjaardagkoek uit ’n boks



Bak ’n verjaardagkoek uit ’n boks

Vir die koek
• 3 Ina Paarman-sjokolade-bokskoeke
• 9 jumbo-eiers
• 750 ml olie
• 750 ml koffie of water gegeur met vanielje
Volg die aanwysings op die pakkie om die beslag te meng, en verdeel dit tussen ’n 23 cm- ronde koekpan en ’n ronde oondvaste metaal- of glasmengbak waarvan die rand ’n 23 cm-deursnee het. Smeer die koekpan en mengbak met ’n lagie botter en sif ’n bietjie meel oor. Skud die oortollige meel uit voordat jy albei 2/3 vol beslag maak. Bak die koeke tot ’n toetspen skoon uitkom en laat dit heeltemal afkoel op ’n draadrakkie.
Vir die vulsel
• 2 blikke karamel
• 400 g donkersjokolade (Ek gebruik Albany-donkersjokolade met neute. Dit gee kraak aan die vulsel.)
Smelt die sjokolade. Gebruik ’n elektriese klitser om die karamel glad te klits. Klits nou die sjokolade by tot die hele storie dik en glad is. Heerlik! Voeg ’n skeut vanielje by as jy wil.



1. Gebruik ’n broodmes om die mengbakkoek in drie lae te sny. Dit help om op ooghoogte met die mes te werk.
2. Sny die bo-kant van die 23 cm-koek gelyk (hou die afgesnyde koek vir later). Sit dié koek op ’n mooi bord en smeer ’n dik laag karamelvulsel oor. Sit die onderste laag van die mengbakkoek daarop, gevolg deur nog vulsel, koek, vulsel en koek tot die stapel soos ’n byekorf lyk. Maak die versiersel om die rande glad met ’n botter- of paletmes.
3. Druk ’n houtkebabstokkie in die middel van die koek in en sny dit bo gelyk af. Dit help om die lae op mekaar te hou terwyl jy versier en dit maak die koek stewiger.
Vir die mooimaak
• voorbereide fondantversiersel en poeier-koskleursel in geel, pienk en groen
• silwer of blou eetbare bolletjies
• malvalekkers



1. Rol die wit fondantversiersel uit en sny  twee groot 8 cm-sirkels en twee 1 cm-sirkels uit. Kleur ’n bietjie fondant groen of blou en sny twee 1,5 cm-sirkels uit. Maak ook ’n oranje driehoeksnawel en twee pote, ’n pienk strik en die letters van die verjaardagmeisie se naam.
2. Knip die malvalekkers met ’n kombuiskêr in skywe om die “borsvere” te vorm.
Vir die buitenste versiersel
• 250 ml botter, sag
• 250 ml versiersuiker, gesif
• 30 ml kakao
• 5 ml vanieljegeursel
• enige karamelvulsel wat oorgebly het
Klits die botter met ’n elektriese klitser tot lig en donsig, voeg die res van die bestanddele by en klits tot gemeng.



1. Bedek die buitekant van die koek met botterversiersel. Plak die twee 8 cm-oë aan die versiersel. Gebuik ’n bietjie water om die groen sirkels, klein wit sirkeltjies en blink bolletjies ook vas te sit.
2. Plak die malvalekker-“borsvere” aan die uil se voorkant.
3. Voeg die snawel en pootjies by.


4. Gebruik ’n paletmes en plak ekstra botterversiersel in ’n oneweredige patroon aan die lyfie sodat dit soos nog vere lyk.
5. Sny twee vet driehoeke vir ore uit die afgesnyde stukkies koek. Heg dit met behulp van tandestokkies bo-op die uil se kop aan en bedek met versiersel.
6. Voeg laaste die strikkie, verjaardagkersie en die baba se naam by jou meesterstuk en jy’s reg vir makietie!

(Tuis Tydskrif)