Thursday 11 August 2016

Ouma se bobotie




Ouma se bobotie

Sit dit voor met geelrys-en-rosyne, perskeblatjang en ’n tamatie-en-uieslaai.
■ 2 dik snye bruinbrood, korsies afgesny
■ 125 ml melk
■ 45 ml olie
■ 1 ui, fyn gekap
■ 1 groot wortel, fyn gerasper
■ 30 ml matige kerriepoeier
■ 1 kg beesmaalvleis
■ 10 ml borrie
■ 30 ml appelkooskonfyt
■ 60 ml heel amandels, gerooster en fyn gekap
■ 60 ml pitlose rosyne
■ 30 ml vars suurlemoensap
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
Bolaag
■ 180 ml melk
■ 3 eiers, geklits
■ Lourierblare

Voorverhit die oond tot 180°C.
Week die brood in die melk. Verhit die olie in ’n kastrol en braai die ui, wortel en die helfte van die kerriepoeier daarin oor lae hitte, tot die ui sag is.

Voeg die maalvleis by en braai tot dit gaar is. Voeg nou die ander helfte van die kerriepoeier saam met die borrie, konfyt, amandels, rosyne en suurlemoensap, asook sout en peper na smaak by. Roer goed en verhit tot kookpunt. Prut liggies vir ongeveer 10 minute.

Voeg die brood en weekvloeistof by. Skep die bobotiemengsel in ’n gesmeerde oondbak en maak dit gelyk met die agterkant van ’n lepel. Klits melk en eiers, geur na smaak en giet dit oor die vleis. Druk lourierblare in vleis. Bak vir ongeveer 35 minute tot goudbruin. Lewer 6-8 porsies.