Thursday 11 August 2016

BOTTERHOENDERKERRIE OOR DIE KOLE




BOTTERHOENDERKERRIE OOR DIE KOLE

Vir 6 mense

‘n koppie botter
1 sopie plantolie
1 ui (fyngekap)
2 huisies knoffel (fyngekap)
gemmer (dieselfde volume as die knoffel; gerasper)
1 teelepel rooibrandrissiepoeier
1 teelepel borrie
1,5 kg ontbeende Hoenderdytjies (of borsies, in groot stukke opgesny)
2 teelepels vinkelsaad (of gemaalde vinkel/barishap)
4 kardemompeule (gekneus)
100 g kasjoeneute (1 pakkie; kneus die neute met jou stamper en vysel)
1 blikkie tamatiepuree (so 410 g; moet dit nie verwar met tamatiepasta {dikker en in kleiner blikkies} of met opgekapte tamaties nie)
1 blikkie ingedampte melk (of klappermelk, of dieselfde volume jogurt)
1–2 teelepels sout
’n teelepel swartpeper
’n koppie vars koljanderblare (rofweg opgekap; opsionele garnering)

LAAT WAAI!

Sit die botter en die olie in jou potjie op ‘n medium-warm vuur. Wanneer die botter gesmelt het, voeg jy die uie by. Braai die uie vir ‘n paar minute tot hulle begin sag word, maar nie bruin is nie. Dit lyk dalk na baie botter, maar die dis se naam is immers botterhoender.

Voeg die knoffel, gemmer, rooipeper en borrie by en braai vir 1 minuut.

Nou voeg jy die hoenderstukke by. Braai hulle vir so 5 tot 8 minute (afhangend van hoe warm jou vuur is) tot goudbruin.
Voeg die vinkelsade, kardemompeule en kasjoeneute by, roer deeglik en braai vir nog 1 tot 2 minute.

Gooi die tamatiepuree en ingedampte melk by, kry die mengsel aan die kook en laat prut vir omtrent 10 minute totdat die sous ongelooflik lekker ruik en die hoender gaar is.
Nou gooi jy ordentlik sout en peper by, roer nog ‘n laaste keer en haal die potjie van die vuur af.
Bedien met rys en garneer met gekapte koljander.