Wednesday 20 July 2016

Tamatiesop met Provensaalse kruie




Tamatiesop met Provensaalse kruie

Genoeg vir: 8
Bereidingstyd:
20 minute
Gaarmaaktyd:
40 minute

• 45 ml olyfolie
• 2 uie, fyngekap
• 3 knoffelhuisies, fyngedruk
• 2 selderystele, gekap
• 1 wortel, geskil en in klein blokkies gesny
• 3 ml heel vinkelsaad
• 2 blikkies (425 g elk) gekapte tamaties
• 1 liter tuisgekookte of aangemaakte groenteaftreksel
• 10 ml fyngerasperde lemoenskil
• 2 ml elk droë roosmaryn, tiemie en marjolein
• 1 ml droë laventelblommetjies (opsioneel)
• 125 ml room (opsioneel)
• korserige brood, om voor te sit (opsioneel)

1 Verhit die olie in ’n groot kastrol. Voeg die ui by en soteer dit vir 10 minute oor lae hitte tot dit sag is.

2 Voeg die knoffel, seldery en wortel by. Roerbraai dit vir 3 minute, voeg die vinkelsaad by en roerbraai dit vir nog 2 minute.

3 Voeg die gekapte tamatie, aftreksel, lemoenskil, kruie en laventelblommetjies (indien jy dit gebruik) by en verhit dit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat dit vir 30 minute sonder die deksel prut.

4 Gooi die groentemengsel in ’n versapper en verpulp dit, of gebruik ’n staafmenger om dit fyn en glad te kry. Voeg die room by, indien jy dit gebruik, en geur die sop na smaak met sout en varsgemaalde swartpeper.

5 Sit die sop vuurwarm voor saam met ’n groentetertjie. (Jy kan die sop vooraf maak en dit verhit wanneer jy dit wil voorsit.)