Thursday 30 June 2016

Vyf ete-idees met worsies



Vyf ete-idees met worsies

Doopbraai-kaasworsies
8 kaasworsies
16 houtsosatiestokkies
Olie, vir diepbraai
500 ml bruismeel
1 ekstra-groot eier
15 ml olie
375 ml water
Sny elke worsie middeldeur en druk ‘n sosatiestok diep in elke worsie. Verkoel tot benodig. Verhit die olie tot warm. Terwyl die olie warm word, sit die bruismeel in ‘n bak. Klits die eier, olie en water saam en voeg by die meel. Meng tot ‘n beslag. Doop die worsies in die beslag (maak seker die hele worsie is bedek) en braai in diep, warm olie tot die deeg goudbruin en warm voor met doopsouse, soos tamatiesous, blatjang of soet rissiesous. Lewer 16 worsie-happies.
Wenk: Jy kan gerookte of gewone Weense worsies vir dié resep gebruik.


Gebakte aartappels met worsies
6 groot aartappels
Olyfolie, seesout en swartpeper, vir geur
60 ml suurroom
45 ml goeie mayonnaise
45 ml natuurlike jogurt
45 ml gesnipperde grasuie
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
Skeut vars suurlemoensap
6 middelslag bees- of varkworsies
100 ml braairibbetjie-marinade
30 ml sjerrie
Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ‘n bakplaat met foelie uit. Smeer die aartappels goed in met olyfolie, sout en peper en prik oraloor met ‘n vurk. Pak op die bakplaat en bak vir 1-1 ¼ uur of tot die aartappelskille bros en die aartappels sag is. Terwyl die aartappels bak, meng die suurroom, mayonnaise, jogurt, grasuie, knoffel en suurlemoensap goed saam. Geur na smaak met sout en peper en hou eenkant tot benodig. Verhit ‘n klein bietjie olie in ‘n pan en braai die worsies oor matige hitte tot gaar. Meng die ribbetjie-marinade en sjerrie en giet oor die gaar worsies. Verhit tot kookpunt en roer-braai die worsies in die marinademengsel tot klewerig. Geur met sout en peper. Hou eenkant warm. Sodra die aartappels gaar is, verwyder uit die oond en vou een op ‘n slag in ‘n skoon vadoek toe. Rol die aartappels elkeen liggies tussen jou hande (werk saggies om nie die skil te breek nie. Dié tegniek verseker dat die aartappels ‘n sagte, donsige binnekant sal hê as jy dit oopsny). Maak ‘n insnyding oor die lengte van elke aartappel en druk elke aartappel effens oop. Skep ‘n groot lepel van die suurroomsous in elkeen en sit ‘n warm, klewerige bees- of varkworsie in elk. Sit dadelik voor met mengelslaai. Genoeg vir ses mense.


Romerige pasta met hoenderworsies en okkerneute
500 g pasta van jou keuse
250 g hoenderworsies (sien wenk)
30 ml botter
1 ui, dun gesny
60 ml sjerrie
250 ml vars room
125 ml melk
30 ml heelkorrelmosterd
15 ml olyfolie
1 houer kersietamaties
50 g okkerneute, gerooster en gekap
125 ml gerasperde parmesaankaas
Sout en swartpeper na smaak
Vars tiemieblaartjies
Kook die pasta in ‘n groot pot vinnig kokende soutwater tot gaar, maar steeds ferm. Terwyl die pasta kook, braai die hoender-worsies in ‘n pan tot gaar. Skep uit, sny in groterige stukke en hou eenkant. Verhit die botter in ‘n pan en braai die ui tot sag. Voeg die sjerrie by en verhit tot kookpunt. Voeg die room by en kook verder af tot effens verdik. Voeg die melk en mosterd by en kook tot ‘n romerige sous. Dreineer die pasta en voeg dit saam met die worsies by die sous. Verhit die olyfolie in ‘n pan en braai die tamaties tot die skille begin oopbars. Voeg dit by die pasta saam met die okkeurneute, parmesaan, sout en peper na smaak. Sprinkel ‘n paar tiemieblare oor en sit dadelik voor. Genoeg vir ses mense.


Spaanse kasserol op kaserige polenta
30 ml olyfolie
4 repies spek, gesnipper
1 lourierblaar
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
45 ml gekapte, vars roosmaryn en tiemie
5 ml paprika
1 blik (410 g) gekapte tamaties
2 chorizo-worsies, dun gesny
1 blik (420 g) gemengde bone, gedreineer
Verhit die olie in ‘n kastrol en braai die spek, lourierblaar en ui tot die uit sag is. Voeg die knoffel, kruie en paprika by en braai tot geurig. Voeg die tamaties by en verhit tot kookpunt. Prut vir vyf minute. Voeg die worsies en bone by en prut vir ‘n verdere 5-10 minute tot alles dik en geurig is.
Om voor te sit: Berei genoeg polenta vir vier mense volgens die aanwysings op die verpakking. Sodra dit gaar is, roer 250 ml gerasperde, sterk kaas, 60 ml melk en ‘n stukkie botter daarby in. Sit die chorizo-kasserol op die polenta voor. Geniet met ‘n groenslaai. Genoeg vir vier mense.


Varkworsie-roti's
15 ml olie
8-10 middelslag-varkworsies
1 ui, gekap
4 repies spekvleis, gesnipper
2 knoffelhuisies, gekap
500 ml lensies, gewas
750 ml ligte bees- of hoenderaftreksel
1 blik (410 g) gekapte tamaties
125 ml gekapte, vars pietersielie
roti?s, rys, koeskoes of fynaartappel, om op voor te sit
Verhit die olie in ‘n groot pan of vlak kastrol en braai die worsies tot gaar. Skep uit en sny in skyfies. Hou eenkant. Braai die ui, spek en knoffel in dieselfde pan tot gaar. Voeg die lensies en aftreksel by en verhit tot kookpunt. Prut vir een uur. Voeg die tamaties, worsies en die helfte van die pietersielie by en prut vir ‘n verdere 30 minute. Geur na smaak met sout en peper en roer die res van die pietersielie net voor opdiening by. Sit voor in roti’s, of op rys, koeskoes of fynaartappel. Genoeg vir 4-6 mense.

Landbouweekblad