Tuesday 21 June 2016

Suurlemoen-vlapoeding




Suurlemoen-vlapoeding
 
Dié poeding vorm ’n dun koekkorsie bo-op en ’n dik laag romerige suurlemoenvla onderin die bak.

■ 310 ml suiker
■ 100 ml koekmeel
■ Knippie sout
■ 250 ml karringmelk
■ 4 ekstragroot eiers, geskei
■ 180 ml vars suurlemoensap
■ 100 ml vars lemoensap
■ 60 g botter, gesmelt

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n middelslagoondbak met botter.

Meng 250 ml van die suiker, die meel en sout saam in ’n groot bak. Klits die karringmelk, eiergele, suurlemoen- en lemoensap en gesmelte botter saam en klits dit dan by die suiker-en-meelmengsel in. (Die beslag sal baie dun wees.) Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en voeg die orige suiker geleidelik by. Klits aanhoudend tot dik en blink.

Vou by die beslag in. Giet in die gesmeerde bak en sit die bak binne-in ’n groter oondbak met ’n bietjie water in. Bak vir 40-50 minute of tot die bokant goudbruin en die onderkant verdik is. Laat effens afkoel en sit voor met vla of roomys. Lewer ses porsies.