Friday 10 June 2016

Rooiwynlamskenkels


Rooiwynlamskenkels
Vir 4 -6 | Voorbereityd 30 minute | Gaarmaaktyd 3 uur


Jy benodig
• 3 groot uie, fyngekap
• 6 groot wortels, fyngekap
• 4 selderystingels met blare, fyngekap
• sonneblomolie
• 4-6 lamskenkels
• 1 pakkie beesstertsop
• 2 blikkies (410 g) tamaties, gekap
• 2 eetlepels suiker
• ¼ koppie balsemiekasyn
• 1 sakkie (50 g) tamatiepasta
• 4 knoffelhuisies, heel en geskil
• 1 teelepel komyn, fyn
• 1 teelepel kaneel, fyn
• 2-4 eetlepels gedroogde kruie soos roosmaryn), na smaak
• 1 koppie rooiwyn
• 2 koppies water
• 1 rol blaardeeg (ontdooi)


Só maak jy

1. Braai die uie, wortels en seldery in olie in ’n groot swartpot tot gaar en geurig.

2. Voeg die lamskenkels en die res van die bestanddele by die pot. Maak seker die pot is dig toe en prut oor ’n lae hitte vir 3 uur todat die vleis baie sag is en van die been af val. Loer elke uur en maak seker dat die pot nie droog kook nie. Moenie roer nie en sorg dat dit nie te vinnig prut nie, anders gaan die vleis op die bodem vasbrand. (Of bak bedek in die oond teen 140 °C.)

3. Rol die deeg oop wanneer die pot gereed is. Laat die skenkelbene regop in die pot staan en drapeer die kors daaroor. Sny gate in die deeg sodat die bene kan deursteek. Bak in die pot oor die kole vir 30 minute met die deksel op – sit ’n paar kole op die deksel – tot die kors goudbruin is. (Of sonder die deksel in die oond teen 180 °C vir 30 minute.)

4. As ’n variasie kan jy die meeste van die vleis met twee vurke van die bene aftrek en met die sous meng voordat jy die deeg oorsit. Dit is veral ’n goeie plan as daar kinders of gaste is wat nie ’n hele skenkel kan baasraak nie. Onthou tog om die skenkelbene weer in die sous staan te maak voor jy die deeg oorgooi.