Friday 10 June 2016

Klapper-en-pynppelbeskuit




Klapper-en-pynppelbeskuit
Maak: omtrent 50 beskuite
Bereidingstyd:
1 uur
Baktyd:
1 uur, plus droogtyd
Oondtemperatuur:
180 °C

• 1 kg bruismeel
• 500 g botter, in blokkies gesny
• 320 g (375 ml) suiker
• 65 g (200 ml) droë klapper
• 50 g amandelvlokkies
• 100 g fyngekapte droë pynappel
• 1 blik (400 ml) klappermelk
• 60 ml melk
• 2 groot eiers

1 Sif die bruismeel en 5 ml sout saam. Vryf die botter met jou vingerpunte by die meel in of gebruik ’n voedselverwerker om dit te pols tot dit soos growwe broodkrummels lyk.

2 Roer die suiker, droë klapper, amandelvlokkies en pynappel by.

3 Klits die klappermelk, melk en eiers saam en roer dit dan by die droë bestanddele.

4 Skep die deeg in ’n gesmeerde bakpan of roosterpan en bak dit vir omtrent ’n uur of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat dit eenkant afkoel. Verlaag die oondtemperatuur tot 100 °C.

5 Gebruik ’n skerp getande mes om dit in beskuite te sny. Pak die beskuite op bakplate en sit dit in die oond om heeltemal uit te droog. Draai dit een of twee keer tydens die droogproses om. Laat die droë beskuite heeltemal afkoel voor jy dit in ’n lugdigte houer bêre.