Monday 6 June 2016

DINE VAN ZYL SE BESTE BESKUIT



DINE VAN ZYL SE BESTE BESKUIT
Hierdie weergawe is nie goedkoop nie; maar koop dit in ’n winkel en kyk wat jy betaal – as jy dit kan kry.
Jy benodig
1,5 kg wit bruismeel...
10 ml (2 t.) bakpoeier
10 ml (2 t.) sout
500 ml (2 k.) muesli

125 ml (½ k.) klapper
250 ml (1 k.) gemengde neute, fyngekap
125 ml (½ k.) koekmengsel
500 ml (2 k.) semelgraanvlokkies
500 ml (2 k.) bruinsuiker
2 eiers
500 ml (1 boksie) karringmelk
500 g gesmelte botter (nie margarien nie)
1 (1 k.) groen appel
Doen dít vooraf:
Maak seker jy het al die bestanddele. Skakel die oond aan op 180 °C.
Spuit 2 groot beskuitpanne van ongeveer 400 x 350 x 20 mm elk met kleefwerende kossproei.
Maak dan só:
1. Meng al die droë bestanddele behalwe die bruinsuiker.
2. Klits die bruinsuiker by die eiers, voeg die karringmelk by en klits. Roer die gesmelte botter by.
3. Skil die appel en rasper dit (as jy dit te lank voor die tyd doen, gaan dit bruin raak). Gooi by die nat mengsel.
4. Meng die nat mengsel deeglik by die droë mengsel.
5. Skep in panne, sny die deeg in blokke en bak 60 minute by 180°C.
6. Laat afkoel en sny weer op die plekke waar vooraf gesny is. Breek in stukke en droog uit.
En dan kom jy terug na my oor die lekker beskuit.
Wenke:
As jou beskuit lank moet hou, gebruik ’n mens blykbaar margarien pleks van botter. Nie in hierdie huis nie. Die beskuit is binne een maand op, voordat dit galsterig kan raak.
Gebruik jou eie neutmengsel, of voeg slegs pekanneute of amandels by.
’n Eetlepel sitrusskilletjies gee die beskuit ’n interessante smaak.