Thursday 9 June 2016

Alles-in-die-yskas-groentesop


Alles-in-die-yskas-groentesop
Na my mening is die geheim van ’n goeie groentesop, goeie, tuisgemaakte aftreksel.
As jy eers groentesop geproe het wat van tuisgemaakte aftreksel gemaak is, sal jy nie sommer jou mond aan die kits-weergawe wil sit nie.

Basiese beesvleisaftreksel
■ 1 kg beesskenkels of ’n mengsel van skenkels en sopbene
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ 3 liter water
■ 2 selderystingels, grof gekap
■ 2 wortels, geskraap en grof gekap
■ 1 groot ui, in kwarte gesny
■ 2 vars lourierblare
■ 15 ml heel swartpeperkorrels
■ 3 kruienaeltjies
■ Hand vol growwesout

Sop
■ 1 pak (250 g) spekvleis, gesnipper
■ 2 uie, grof gekap
■ 4 knoffelhuisies, grof gekap
■ 1 bos seldery, met blare en al gekerf
■ Groot hand vol vars pietersielie, grof gekap
■ 4 groot wortels, geskraap en grof gerasper
■ 6 murgpampoentjies, gewas en grof gerasper
■ 1 bos grasuie, gesnipper
■ 8 ryp tamaties, geskil en in blokkies gesny (of 2 blikke gekapte tamaties)
■ 250 ml gort
■ 1 blik (410 g) botterbone, gedreineer
■ 45 ml tamatiespasta
■ Suiker, sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Vir die aftreksel: Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ’n oondbak met ’n bietjie olie en sit die beesskenkels daarin. Geur met sout en peper. Oondrooster die skenkels en bene vir ongeveer 35 minute tot die vleis kleur het.

Haal uit die oond en sit die bene in ’n groot soppot en bedek met die water. Voeg die res van die aftrekselbestanddele by en verhit tot kookpunt. Prut stadig vir ongeveer twee uur of tot die skenkelvleis sag is. Laat oornag afkoel en skep die vet en onsuiwerhede wat bo-op dryf die volgende oggend af. Skep nou die vleis en bene uit. Sny die vleis wat jy in die sop wil terugsit van die bene af en pluis dit grof. Hou eenkant.

Voer nou ’n vergiettes met moeseliendoek uit en giet die aftreksel daardeur in ’n skoon houer en voeg die stukkies vleis by.

Vir die sop: Braai die spek in ’n groot, droë sopkastrol tot dit begin kleur kry. Voeg die uie en knoffel by en braai stadig tot die uie sag is. Voeg nou die aftreksel met die stukkies vleis daarby, asook die seldery, pietersielie, wortels, murgpampoentjies, grasuie en tamaties.

Verhit tot kookpunt (voeg kookwater by as dit te dik is) en prut stadig vir ongeveer ’n uur. Voeg die gort en 750 ml kookwater by en verhit weer tot kookpunt. Prut vir ongeveer 40 minute of tot die gort sag en uitgedy is. Voeg die botterbone en tamatiepasta by en kook deur.

Geur na smaak met ’n knippie suiker, sout en vars gemaalde swartpeper en laat staan vir vyf minute. Sit die sop voor met vars, korserige brood en sout plaasbotter. Lewer 10 porsies.