Monday 30 May 2016

Tuisgebakte brood




Tuisgebakte brood

 Bestanddele
1 300 g broodmeel

20 g kitssuurdeeg
5 ml sout

ongeveer 800 ml louwarm water (dalk ’n bietjie meer as die deeg te droog is)

Metode

Meng die meel, suurdeeg en sout saam in ’n groot mengbak. Meng met die louwarm water tot ’n deeg wat lekker sal knie. Dit klink vreeslik maklik en vinnig, maar die proses van wag kom nou eers. Knie die deeg vir ’n goeie 15 – 20 minute op jou werkvlak tot elasties. Sit terug in groot mengbak en smeer ’n klein bietjie sonneblomolie bo-op. Nou sit ek die hele bak in ’n groot swart sak, bedek dit met ’n handdoek en plaas dit op ’n warm plek (gewoonlik in die son). Laat rys vir sowat 1½ uur. Hou dop – dit moet verdubbel in grootte. Knie die deeg af en smeer ’n 30 cm x 12 cm broodpan met botter, of gebruik oondsproei. Vorm die deeg om in die pan te pas. Bedek die pan met ’n kombuishanddoek en plaas dit in die louoond. Laat weer rys vir ongeveer 1½ uur. Dit moet dubbel die grootte rys. Voorverhit die oond tot 170 °C en bak op die middelste rak vir ongeveer 1 uur. Klop bo-op die brood om te toets vir gaarheid. As dit ’n hol geluid maak, is dit gereed. Smeer ’n bietjie botter bo-op die kors en keer versigtig uit. As jy die brood nie onmiddellik warm wil voorsit nie, maak dit met ’n lap toe terwyl dit afkoel; dit sal verseker dat die korsie bo-op nie te hard word nie.