Tuesday 10 May 2016

Maklike sponskoek



Maklike sponskoek      
Lewer 1 middelslagkoek...
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 40 min.

Benodigdhede:

6 eiers, geskei
’n knippie sout

160 g strooisuiker
200 g koekmeel
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n diep 23 cm-koekpan en voer die bodem met bakpapier uit.

Klits die eierwitte tot skuimerig. Terwyl jy klits, voeg die knippie sout en strooisuiker lepel vir lepel by tot dit styf is.

Klits die eiergele met ’n vurk by die eierwitte in.

Sif die koekmeel oor die mengsel en vou sagkens in.

Giet in die bakpan en bak 40 minute of tot gaar en bruin bo-op.

Wenk: Versier die koek met enige versiersel van jou keuse. Halveer die koek horisontaal en skep so twee lae.

BOTTERVERSIERSEL:

45 ml (3 e) sagte margarien of botter; 750 ml (3 k) versiersuiker; 60 ml (¼ k) melk

Klits die botter tot romerig. Voeg die orige bestanddele by en klits tot bleek en donsig.

Opsioneel; voeg 30 ml (2 e) kakaopoeier by om ’n sjokoladevariasie te maak.

ROOMKAAS-VERSIERSEL:

500 g versiersuiker; 150 g roomkaas; 30 ml (2 e) botter; 5 ml (1 t) vanielje-ekstrak

Sif die versiersuiker in ’n bak, voeg die orige bestanddele by en klits tot romerig en donsig.

SJOKOLADE-GANACHE:

300 g donkersjokolade, in blokkies gebreek; 300 ml room

Plaas die sjokolade en room in ’n glasbak en mikrogolf 1 tot 2 minute; roer elke 10 sekondes of tot die sjokolade gesmelt en goed met die room gemeng het. Laat koel sowat 5 minute af en smeer oor die koek.

Maak jou eie versierselsak:

Skep die versiersel in ’n groot, deursigtige toebroodjiesak, knip een van die onderste hoekies van die sak af en begin versier. Jy kan ook ’n versierseltuit insteek en die plastiek ’n bietjie groter oopknip sodat net die punt van die tuit uitsteek