Wednesday 4 May 2016

Jogurtkaas in olyfolie




Jogurtkaas in olyfolie   

Dié kaasbolletjies is heerlik as dit op vars brood gesmeer of in slaaie gebruik word. Jy kan dit ook krummel en saam met songedroogde tamaties, olyfolie en ’n hand vol vars baba-spinasieblare deur pasta roer.

Maak 2 x 1 liter-flesse
Bereidingstyd 30 minute, plus 2 tot 3 dae dreineringstyd
2 liter Griekse jogurt
5 ml sout
sowat 500 ml olyfolie

1. Gebruik ’n skoon stuk moeseliendoek, of steriliseer ’n stuk wat vantevore gebruik is deur dit in kookwater te druk. Sprei die doek oop oor ’n skoon mengbak. Meng die jogurt en sout en skep dit in die middel van die stuk moeselien.
2. Vou die jogurt in die moeselien toe en bind vas met ’n stukkie tou. Maak die jogurtbal vas sodat dit hang en sit ’n mengbak onder sodat die wei wat uitdrup, opgevang word. Hang dit vir twee tot drie dae op ’n koel, droë plek in jou kombuis waar dit geen direkte sonlig kry nie. (Jy kan dit ook aan ’n rakkie in die yskas vasmaak as jou kombuis te warm is, maar onthou, dit gaan effens langer neem om te dreineer.)
3. Steriliseer twee flesse soos vir konfyt. (Sit dit vir 10 minute teen 150 °C in die oond of kook dit vir 5 minute in ’n kastrol vol water.) Onthou om die deksels ook te steriliseer. Maak die tou los en haal die jogurtbal uit die moeselien. Vorm okkerneutgrootte bolletjies deur dit tussen jou hande te rol.
4. Pak die kaasbolletjies in die afgekoelde gesteriliseerde flesse saam met die geurmiddels van jou keuse (sien die variasies hieronder). Gooi olyfolie oor totdat die bolletjies heeltemal bedek is. Verseël die fles en sit dit in die yskas. Die kaas sal vir sowat drie weke vars bly.


Variasies
Knoffel, brandrissie en roosmaryn
Voeg 2 geskilde knoffelhuisies (in skyfies gesny), 1 rooi brandrissie (in dun ringetjies gesny), ’n paar swartpeperkorrels en ’n takkie roosmaryn by die kaasbolletjies in die fles.
Songedroogde tamaties en tiemie
Hidreer songedroogde tamaties vir 15 minute in warm water en dreineer. Voeg dit by die kaasbolletjies in die fles saam met ’n takkie tiemie en ’n paar swartpeperkorrels. Jy kan ook ’n reep suurlemoenskil byvoeg.