Tuesday 31 May 2016

Hollandse Paasstol



Hollandse Paasstol
Al wat jy nodig het is…
300g gedroogde koekvrugte (ek het Safari Sundried Cake Mix gebruik)
¼ koppie sterk rooibostee
3E brandewyn (laat uit as jy verkies)
500g broodmeel
100g suiker
15g droë gis
2t fyn kaneel
1t gemengde spesery (mixed spice)
½t neutmuskaat
groot knip naeltjies
350ml louwarm melk
2 eiers
50g sagte kamertemperatuur botter
10g sout
100g glacé kersies, heel of in die helfte gesny
100g amandels, rofweg gekap
gerasperde skil van een suurlemoen
250g marsepein of marsepein substituut
100g gesoute botter, gesmelt
versiersuiker
Sit die droë vrugte in ’n bak saam met die rooibos en brandewyn en laat staan vir ten minste ’n uur. Gooi die meel in ’n groot bak saam met die suiker, speserye, melk en eiers en meng goed. Knie vir vyf minute. Plaas die deeg in ’n groot skoon bak wat met kookolie geverf is en bedek met kleefplastiek. Sit eenkant om te rys vir ’n uur.

Maak intussen jou marsepein rolle. Marsepein kan maar neuk, so die maklikste manier om dit te doen sonder om jouself en jou kombuistafel onmoontlik taai te maak is… kleefplastiek! Sit eenvoudig die marsepein op een stuk kleefplastiek en bedek dit met nog ’n stuk. Gebruik jou hande om die marsepein liggies in ’n lang worst te begin vorm en gebruik dan rolbewegins tot jy ’n perfekte marsepein ‘wors’ van so 3cm in deursnit het. Plaas dit in die yskas tot jy dit gebruik.

As die deeg gerys het, voeg die sout, 50g sagte botter, kersies, neute, suurlemoenskil en gedreineerde droëvrugte by. (Wenk: Dreineer hulle in ’n virgitis en druk hulle met jou kneukels om enige orige vloeistof uit te kry.) Meng goed deur.

Deel die deeg in twee en plaas op ’n meelbestrooide oppervlak. Vorm twee reghoeke deeg so 4cm dik. Sny die marsepein in twee (4cm korter as die lengte van die deeg) en plaas in die middel van elke deeg reghoek. Vou die kante van die deeg oor die marsepein en vou dan die ente netjies onder in (soos jy ’n baba snoesig sal ‘intuck’) tot jy ’n perfekte ovaal vorm het.

Plaas die rolle op ’n bakplaat met bakpapier gevoer en bedek met ’n klam vadoek. Laat reis vir ’n uur. Bak in ’n 200 grade Celsius voorverhitte oond tot deurgebak – so 45 minute. Verf die warm Paasstol herhaaldelik met gesmelte botter. (Die botter trek in en help die Paasstol om klammer te wees.) Bestrooi met versiersuiker na die laaste verf. Bedien op ’n mooi bord en bestrooi met ’n laaste bietjie versiersuiker net vir die mooi.