Friday 6 May 2016

Dubbel-sjokoladekoek




Dubbel-sjokoladekoek
As jy nie ’n kitskoek wil bak nie, is dié ’n staatmakerresep. Dit is so ryk en lekker dat jy amper nie versiersel nodig het nie. Tog is dit heerlik met karamel tussenin die lae en bo-oor gesmeer.
Jy het nodig:
  • 3 groot eiers
  • 100 g goeie gehalte melksjokolade, in blokkies gebreek
  • 375 ml warm, sterk koffie
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 375 ml karringmelk
  • 750 ml strooisuiker
  • 625 ml meel
  • 375 ml kakao
  • 10 ml koeksoda
  • 3 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 180 ml olie
Só maak ’n mens:
1. Voorverhit die oond tot 150 °C en voer drie koekpanne van 20 cm in deursnee met bakpapier uit. Spuit ook sommer deeglik met kleefwerende sproei om te voorkom dat die koek vassit.
2. Giet die warm koffie bo-oor die sjokolade en roer elke nou en dan tot die sjokolade gesmelt het. Hou eenkant.
3. Voeg die vanieljegeursel by die karringmelk en meng. Hou eenkant.
4. Klits die eiers in ’n elektriese menger vir 5 tot 10 minute tot lig en donsig.
5. Stel die menger op sy laagste spoed en voeg die olie in ’n dun straaltjie by om ’n emulsie te vorm.
6. Voeg die karringmelk en vanieljegeursel by en dan die sjokolade-en-koffiemengsel.
7. Sif die suiker, meel, kakao, koeksoda, bakpoeier en sout saam.

8. Skep die droë bestanddele by die beslag en roer totdat deeglik gemeng is.

9. Verdeel die beslag tussen die koekpanne en bak sowat 30 minute tot gaar.

10. Laat heeltemal in die panne afkoel en keer dan uit op ’n draadrak. Die koek kan vir tot drie maande gevries word. Versier met versiersel van jou keuse, of gebruik twee blikke karamel om die koek op te tert.