Wednesday 20 April 2016

Wortelkoek Kolwyntjies




Wortelkoek Kolwyntjies

Die geurige kolwyntjies kry, buiten wortels, ook nog ’n goeie skoot patat in wat help om die glisemiese indeks daarvan te verlaag. Ek het die suiker en olie daarvan heelwat verlaag om dit gesonder te maak.

Maak 12 kolwyntjies...
Bereiding: 15-20 minute
Gaarmaaktyd: 30-40 minute

KOEK:
160 ml (¾ k) bruinsuiker
125 ml (½ k) olie
5 ml (1 t) vanieljegeursel
3 ekstra groot eiers
375 ml (1½ k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
knippie sout
2 ml (½ t) fyn kaneel of neutmuskaat
500 ml (2 k) fyn gerasperde geelwortels
250 ml (1 k) fyn gerasperde patat
125 ml (½ k) sultanas
250 ml (1 k) amandelbrokkies of gekapte okkerneute
fyn gerasperde skil van ’n halwe suur-lemoen
15 ml (1 e) suurlemoensap

Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas ’n papierhouertjie in die holte van ’n muffinpan.

1. Verroom die suiker en olie tot romerig.
2. Klits die vanieljegeursel en die eiers by.
3. Sif die koekmeel, bakpoeier, sout en speserye oor en vou in.
4. Voeg die res van die koekbestanddele by en meng deur.
5. Skep die muffinholtes driekwart vol.
6. Bak 30-40 minute tot gaar en tot ’n toetspen skoon uit die middel van die muffins kom.
7. Keer op ’n draadrakkie uit en laat heeltemal afkoel.

VERSIERSEL:
200 g gladde laevet-maaskaas
45 ml (3 e) versiersuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel

**Meng al die bestanddele van die versiersel en smeer oor elke muffin net voor opdiening